Advent:
Vandag is dit 1 Desember en dit is Adventstyd. Advent is die kerklike-jaarseisoen wat die afwagting en voorbereiding op Kersfees voorafgaan.
Vanoggend lees ek Matteus 1 & 2. Jesus se
geslagsregister, die swangerskap, die naam Immanuel wat betken God met ons. Ek
lees van die besoekers uit die Ooste en die bang en onstelde koning Herodes. En
dit is hier waar ek iets nuuts raak lees. Herodes (Matt2:4-) hoor van die nuwe
koning en hy ontbied skrifgeleerdes en priesterhoofde om te help met die
dilemma, want hy wat Herodes is, wil weet waar die nuwe koning is.
Die raadgewers vertel toe dat hierdie koms van
die koning reeds lank terug opgskrywe is deur een van die profete. Dit was die
profeet Miga (5:1) wat dit namens die Here aangekondig het. Die mooi is dat
wanneer die skrifgeleerdes die Ou Testamentiese voorspelling aanhaal, klink dit
so: “En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal 'n
leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. ”
Voordat Jesus eendag vir sy mense self sal sê
(volgens Joh. 10 dat Hy die Goeie Herder is), kom die diensknegte van koning
Herodes en sê eintlik: Hierdie is ‘n koning wat gebore is, maar Hy is anderste
– sy manier hoe Hy dinge gaan doen is anderste. Hy gaan soos ‘n herder wees in
sy koningskap.
En dit roer my hart, want ek sou self nie belang
gestel het in ‘n ongeskikte of knorige koning soos Herodes om oor my te regeer
of my voor te sê hoe ek mag en moet lewe nie. Dit sou net so goed wees om te
verwag dat ek na alles sal luister wat ons land se staatspresident sê en dit
gedweë te aanvaar en uit te voer.
Juis daarom glo ek, dat die Here dit deur sy
Woord vir ons so mooi duidelik kom stel – ek gee my Seun, as ‘n Herder-koning.
‘n Herderlike-koning ken sy skape persoonlik. ‘n Herderlike-Koning loop die pad
vooruit en sorg vir genoeg kos (geestelik, emosioneel en fisies van aard) vir
sy skape. Want sy skape kan nie altyd so ver sien wat voor lê nie, maar die
Herderlike-Koning kan. En juis daarom raak die teks my vanoggend in die wete
dat Jesus as Herder en Koning my regtig op ‘n ander manier ken as wat ‘n gewone
mense koning my sou ken. En dan is ek bereid om te glo en te vertrou op die
Herder-Koning, want hy sien en weet verder as wat ek kan glo, bid of sien.
Ek gaan lees toe die verwysing in Miga 5 & 6
en ek haal enkele dele aan wat vir my so direk wys dat die voorspelling op
Jesus Christus en ons van toepassing is.
Maar jy,
Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar
iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver
terug, in die gryse verlede........ Hy sal na vore kom en sy volk
lei ...hulle sal woon tot in die uithoeke van die aarde...
Ek besef dat die teks so waar is, want ek woon
nie in Israel nie, maar in die uithoeke van die aarde. Hierdie teks sluit selfs
ons as christene, hier in Suid-Afrika vêr vooruit, in.
.... Hy sal
vrede bring. Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees, hulle sal
daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op groen gras wat
nie vir 'n mens wag nie, nie na mense kyk nie.
Mag ek en jy so wees soos wat die teks ons
oproep om te wees; mag ons soos dou en stortreëns wees
vir alle mense, mag ons sorg dat daar reëns kom sodat groen gras kan groei waar
ons woon werk en lewe. Mag ons God se seën wees vir ander. En mag ons ons koppe
lig en verby die gebreke van mense kyk, maar die wonder van God en die lewe raaksien
en vier. Dit word ook in Miga
6:8 gevra: Mens, die Here het jou bekend gemaak wat
goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal
bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here
te dien, dit is wysheid.
Laat ons in die vrede van die Herder-Koning lewe. Hy wat ons raaksien,
raadgee, versorg, voorsien, verstaan en ken. En mag ons ook so teenoor ons
naaste lewe.
No comments:
Post a Comment