Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Friday 30 November 2012

toi-toi oor die lewe

Sondag sit dié gesin en tee drink, gesels en kuier. Ma sê: “Onthou julle die keer op die plaas toe die volk so bly was dat die winkel op Waterford (‘n klein naby geleë spookdorpie)  afgebrand het?
“Ja”; maar ons kan nie onthou hoekom die vreugde vure gebrand het in die harte van die plaasvolk nie?  
 Ma vertel: “Ek’t hulle mos gevra hoe kan hulle bly wees as die plek waar hulle kos en voorrade koop, dan nou tot niet is? Toe vertel hulle dat hulle so bly is omdat die Skuldboek ook uitgebrand het en niemand nou sal onthou of kan bewys dat hulle skuld op die boek gehad het nie!”
Terwyl ek lekker lag en my ma nog tee skink, sien ek dat sy nog steeds na al die jare nie kan indink hoe mense so kan optree of reageer oor so ‘n slegte voorval waar die winkel afgebrand het nie.
Ek het net by myself gedink – twee dinge:
1. Wat ‘n wonderlike beeld vir genade. In en deur Christus is my skuldboek ook verbrand, weg, “gone”. Laat ek bly wees oor die lewe!
2.Hoe merkwaardig verskil mense in hul perspektiewe tot en op die lewe.

Die trein het vertrek

Bokant die  gaste toilet in my huis is die volgende aanhaling: Success – it is a journey, not a destination. Dis ‘n gegewe, niemand het al dié stasie perron se eindpunt totaal bereik nie. ..it is a journey. Ek kry lag, want net sodra jy mos dink dat jy geariveer het, dan is die volgende trein alreeds besig om te vetrek.
Jy dink nog jy is die middelpunt van verlange, middelpunt van belange, dan ry die trein al onder jou uit – net jy wat vir die skynbare skare waai soos die queen van engeland. So het die trein ook gister onder my uit vertrek. Ter agtergrond: Ons is ‘n redelik normale Afrikaanssprekende huisgesin. Ons ken die gewone dinge, geniet dit en as iets vreemds te ete aangebied word, moet dit erg indruk skep om weer ‘n toekomsverwagting op ons tafel te hê. So koop ek gister – in my opinie – baie lekker en duur Duitse delicatesse met name Pfeffernüsse (Lebkuchen –  Duitse Kersfeeskoekies) en Marzipanstollen (‘n Duitse Vrugte koek). Ek gaan die gesin bederf. Wel my lus vir die lebkuchen het my alreeds in die kar oorval, soveel so date k die pak koekies oopmaak en uitdeel aan pa, ma en broer . Almal ‘oe’ en ‘aa’ met die eerte proesel. Met die tweede koekie was ma se kommentaar: “Dis maar gemmerkoekies met fyngemaalde naeltjies in. Hulle gebruik eierwit-glansversierel bo-op dit.”  My pa se reaksie met die offerhande van ‘n tweede koekie: “Nee wat die eerste kon gaan, maar ek het nie lus vir sooibrand nie.”  Effens afgehaal, lees ek maar die pakkie se informasie  wat in alle tale oor die wêreld heen weergegee word– dit is nogal ‘n doending waarvan ek hou, om etiket informasie te lees -  en daar staan dit op Engels: “Glazed ginger bread iced nuts” – niks fênsie nie.  ....die trein het vertrek... verslae waai ek net by myself vir ‘n leë perron.
Ek lag!
 Tuis en ons gaan amper aansit vir middagete. Die spyskaart is ‘steak-strips’  in sous (vleis vir ‘n boeregesin) en variëte van brode. Ek, al weer gereed om af te klim van die perron, besluit om die Marzipanstollen te sny en pragtig te rangskik, dit sal dien as nagereg of so iets lekkers en spesiaals. Laasgenoemde bedieningsvoorstel word in die middel van die tafel geparkeer. Ons bid en val daarna weg met die ete. Ek proe aan die stolen en reageer; “Sjoe, dit sal lekker smaak ook as nagereg met vla oor.” My pa neem toe ‘n stuk stollen om ook te proe... en toe trek die trein onder my gat uit... Pa staan op en stap met sy bord weg om iets te gaan inskep. Dis toe hy kom sit dat die trein sy laaste fluit gee – Pa het ‘n koppie vol vleissous oor die stollen gaan gooi!!! En die woorde volg: “Jy’t mos gesê dit sal lekker proe met vla, hierdie is my vla.”        Ek het die trein verpas, verslae.

1 Desember

Advent:

Vandag is dit 1 Desember en dit is Adventstyd. Advent is die kerklike-jaarseisoen wat die afwagting en voorbereiding op Kersfees voorafgaan.
Vanoggend lees ek Matteus 1 & 2. Jesus se geslagsregister, die swangerskap, die naam Immanuel wat betken God met ons. Ek lees van die besoekers uit die Ooste en die bang en onstelde koning Herodes. En dit is hier waar ek iets nuuts raak lees. Herodes (Matt2:4-) hoor van die nuwe koning en hy ontbied skrifgeleerdes en priesterhoofde om te help met die dilemma, want hy wat Herodes is, wil weet waar die nuwe koning is.
Die raadgewers vertel toe dat hierdie koms van die koning reeds lank terug opgskrywe is deur een van die profete. Dit was die profeet Miga (5:1) wat dit namens die Here aangekondig het. Die mooi is dat wanneer die skrifgeleerdes die Ou Testamentiese voorspelling aanhaal, klink dit so: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. ”
Voordat Jesus eendag vir sy mense self sal sê (volgens Joh. 10 dat Hy die Goeie Herder is), kom die diensknegte van koning Herodes en sê eintlik: Hierdie is ‘n koning wat gebore is, maar Hy is anderste – sy manier hoe Hy dinge gaan doen is anderste. Hy gaan soos ‘n herder wees in sy koningskap.
En dit roer my hart, want ek sou self nie belang gestel het in ‘n ongeskikte of knorige koning soos Herodes om oor my te regeer of my voor te sê hoe ek mag en moet lewe nie. Dit sou net so goed wees om te verwag dat ek na alles sal luister wat ons land se staatspresident sê en dit gedweë te aanvaar en uit te voer.
Juis daarom glo ek, dat die Here dit deur sy Woord vir ons so mooi duidelik kom stel – ek gee my Seun, as ‘n Herder-koning. ‘n Herderlike-koning ken sy skape persoonlik. ‘n Herderlike-Koning loop die pad vooruit en sorg vir genoeg kos (geestelik, emosioneel en fisies van aard) vir sy skape. Want sy skape kan nie altyd so ver sien wat voor lê nie, maar die Herderlike-Koning kan. En juis daarom raak die teks my vanoggend in die wete dat Jesus as Herder en Koning my regtig op ‘n ander manier ken as wat ‘n gewone mense koning my sou ken. En dan is ek bereid om te glo en te vertrou op die Herder-Koning, want hy sien en weet verder as wat ek kan glo, bid of sien.
Ek gaan lees toe die verwysing in Miga 5 & 6 en ek haal enkele dele aan wat vir my so direk wys dat die voorspelling op Jesus Christus en ons van toepassing is.
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede........ Hy sal na vore kom en sy volk lei ...hulle sal woon tot in die uithoeke van die aarde...  
Ek besef dat die teks so waar is, want ek woon nie in Israel nie, maar in die uithoeke van die aarde. Hierdie teks sluit selfs ons as christene, hier in Suid-Afrika vêr vooruit, in.

.... Hy sal vrede bring. Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees, hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op groen gras wat nie vir 'n mens wag nie, nie na mense kyk nie. 

Mag ek en jy so wees soos wat die teks ons oproep om te wees; mag ons soos dou en stortreëns wees vir alle mense, mag ons sorg dat daar reëns kom sodat groen gras kan groei waar ons woon werk en lewe. Mag ons God se seën wees vir ander. En mag ons ons koppe lig en verby die gebreke van mense kyk, maar die wonder van God en die lewe raaksien en vier. Dit word ook in  Miga 6:8 gevra:   Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid. 

Laat ons in die vrede van die Herder-Koning lewe. Hy wat ons raaksien, raadgee, versorg, voorsien, verstaan en ken. En mag ons ook so teenoor ons naaste lewe.