Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Friday 30 November 2012

Die trein het vertrek

Bokant die  gaste toilet in my huis is die volgende aanhaling: Success – it is a journey, not a destination. Dis ‘n gegewe, niemand het al dié stasie perron se eindpunt totaal bereik nie. ..it is a journey. Ek kry lag, want net sodra jy mos dink dat jy geariveer het, dan is die volgende trein alreeds besig om te vetrek.
Jy dink nog jy is die middelpunt van verlange, middelpunt van belange, dan ry die trein al onder jou uit – net jy wat vir die skynbare skare waai soos die queen van engeland. So het die trein ook gister onder my uit vertrek. Ter agtergrond: Ons is ‘n redelik normale Afrikaanssprekende huisgesin. Ons ken die gewone dinge, geniet dit en as iets vreemds te ete aangebied word, moet dit erg indruk skep om weer ‘n toekomsverwagting op ons tafel te hê. So koop ek gister – in my opinie – baie lekker en duur Duitse delicatesse met name Pfeffernüsse (Lebkuchen –  Duitse Kersfeeskoekies) en Marzipanstollen (‘n Duitse Vrugte koek). Ek gaan die gesin bederf. Wel my lus vir die lebkuchen het my alreeds in die kar oorval, soveel so date k die pak koekies oopmaak en uitdeel aan pa, ma en broer . Almal ‘oe’ en ‘aa’ met die eerte proesel. Met die tweede koekie was ma se kommentaar: “Dis maar gemmerkoekies met fyngemaalde naeltjies in. Hulle gebruik eierwit-glansversierel bo-op dit.”  My pa se reaksie met die offerhande van ‘n tweede koekie: “Nee wat die eerste kon gaan, maar ek het nie lus vir sooibrand nie.”  Effens afgehaal, lees ek maar die pakkie se informasie  wat in alle tale oor die wêreld heen weergegee word– dit is nogal ‘n doending waarvan ek hou, om etiket informasie te lees -  en daar staan dit op Engels: “Glazed ginger bread iced nuts” – niks fênsie nie.  ....die trein het vertrek... verslae waai ek net by myself vir ‘n leë perron.
Ek lag!
 Tuis en ons gaan amper aansit vir middagete. Die spyskaart is ‘steak-strips’  in sous (vleis vir ‘n boeregesin) en variëte van brode. Ek, al weer gereed om af te klim van die perron, besluit om die Marzipanstollen te sny en pragtig te rangskik, dit sal dien as nagereg of so iets lekkers en spesiaals. Laasgenoemde bedieningsvoorstel word in die middel van die tafel geparkeer. Ons bid en val daarna weg met die ete. Ek proe aan die stolen en reageer; “Sjoe, dit sal lekker smaak ook as nagereg met vla oor.” My pa neem toe ‘n stuk stollen om ook te proe... en toe trek die trein onder my gat uit... Pa staan op en stap met sy bord weg om iets te gaan inskep. Dis toe hy kom sit dat die trein sy laaste fluit gee – Pa het ‘n koppie vol vleissous oor die stollen gaan gooi!!! En die woorde volg: “Jy’t mos gesê dit sal lekker proe met vla, hierdie is my vla.”        Ek het die trein verpas, verslae.

No comments: