Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Wednesday 30 March 2011

onskeibaar deel


Suid Afrika, ek sien jou op die ent van die maand
as jy Shoprite bedrukkend, verdrukkend, bevuil, vervuild vol staan
Ek sien jou na die “pension”  en “grant ” rye in die hoofstraat gaan
Ek hoor  jou “beat” hop voor PEP Stores uit groot swart “speakers” spring
Ek sien jy’s entrepreneur om kos huis toe te bring
Ek hoor jou oor die strate van die dorp heen skree, skel, sing
Ek voel jou speel, jou lag, jou gil met lewe deur kinders laat klink
Ek ruik jou amoniak afval  agter die “taxi-rank” stink
Ek voel jou teen my druk in die Poskantoor
Op Woensdae waar jy werk in die huis, waar ek jou geselsgoed hoor
Jy’s kleurvol, klankvol, kunstig, kreatief
Suid Afrika, jy’s deel van my, dit is so -
hier waar ek liefhet, leef en glo


Reg voor Africa Bank word besigheid gemaak - 'Bank at Africa'

 Voor Pepstores en Shoprite verkoop ons dieselfde produkte

aan die anderkant...ek sien nie 'n B nie


Met die uiteindelike oopswaai van die voordeur, na jy die uitgestelde, vermydend, roepende deurklokkie probeer ignoreer het, want jy het skrams deur die venster gesien wat buite aan’t wagte is, en die kenmerklike reuk, klank en Ora van die deurbewagtende jou begroet sonder woord, dan weet jy...hier kom dit:

“Ag, ek soek net ‘n geldjie om die trein te vang na...”


Ek het al gereken dat daar êrens, iewers ‘n massiewe letter B voor of op hierdie pastorie se dak aangebring is, wat slegs ek nie kan raaksien nie. Want elke verdwaalde, verwaarloosde, “travel”-laar, boemelaar, bedelaar, swerwer, gypsy, werksoeker, broodvraer, wil altyd geld hê vir ‘n treinkaartjie om hul bestemming te bereik wat met die letter  B, begin.

Ek het al alles gehoor, Boksburg,  Brandfort, Brandvlei, Bainsvlei, Bloemfontein, Bultfontein, Bredasdorp, Balito, Belville, Boston, Bergville, Bethelehem, Bethelsdorp, Badplaas, Bethel, Baberton, Blyde Rivier, Barkley-Wes, Barkley-Oos, Britztowm, Brits, Bitterfontein, Bettiesbaai en Benoni. Altyd ‘n B! Ek belowe jou, altyd ‘n B!

Wel die laaste een wat kom klop het was so paar Sondae terug. Ja lyk my dis nogal ‘n gebeurtelike Saterdag-Sondag-ding.
Die honde het geblaf en heen en weer teen die heining gewaarsku. Ek het deur die waas van die gordyn gesien dis ‘n ouer man, geklee in ‘n langbroek, geruite sportbaadjie, gedas en ge-1970’s-hoed, wat elke dan en wan voor die hekkie verby paradeer. Later agter gekom hy paai die honde om so die voordeur te bereik. Die klokkie het sy teikendoel aangekondig. Ek het deur toe gestap, oopgemaak en geen woord gespraak nie. Net die glurende staar. Met die inwaai van die lugstroom het die kennelike reuke en geure van muf sweet, spirits en vele meer my begroet. My besluit was dat hy eerste die intree rede sal lewer. Met telepatiese kommunikasie het dit ook spoedig so gebeur.

“Dag seun, is jou pappie tuis?”
“Nee.”
“O, want iemand het gesê ek sal met jou pappie kan praat, hy is mos die dominee?”
Ek het weer geantwoord: “Nee, my pa is nie hier nie.”
Hy: “Ek wou ‘n paar goedjies met hom bespreek. My dogter is nou vir die derde jaar in standerd 8 en ons het nou nie genog geld om haar te laat klaar leer nie en dinge gaan swaar.”
“O”: beaamend reageer ek. “Wel ons beleid in hierdie huis is, dat ons vir niemand geld gee nie, maar ek sal gaan kyk wat daar te ete of te drinke is.”
“Nee wat, honger is ek nou glad nie ou seun”: antwoord hy oortuigend.
Ek, lewensdom, sou dink dat enige kos verwelkom sou word as dit swaar gaan. Duidelik verkeerd. Nogtans keer ek in kombuis toe, vat ‘n pak “chelsea-buns” en ‘n bottel yskaswater en gee dit vir die man.

“Dankie.         Die eintlike rede hoekom ek hier is, is om vir jou pappie die slegte tyding te bring van onse dominee. Hy is mos so skielik oorlede.”
Ek reageer nie, steeds die blikkende gluur. Ek laat die stilte toe om hom ruimte te gee vir sy woorde.
“Ja....so skielik. Die een dag daar, die ander dag weg.   (stilte)    Ek weet nie of julle die tyding gekry het nie,  (stilte)   maar ek het gedink ek kom deel net die tyding met julle.”
Ek vra toe maar: “So watter dominee is dit?”
“Dis die dominee van Knysna, wat ons bedien het in die buitewyke.”

Nou dink ek by myself...mmmm. Mis ek iets in die verhaal? Want 1. Knysna is seker padlang 500km hiervandaan. 2. My pa is nie ‘n dominee nie, hy woon nie hier nie,  ek is die dominee en ek woon hier. 3. Ek ken nie die oorledene nie, daarom weet ek nie hoekom ek sou belangstel in hierdie spesifieke tyding nie. 4. Dis Sondagmiddag 3 uur se kant en ek ken ook nie die boodskapper met die kind in standerd 8 triplikaat nie.
En dit is toe dat dit kom...

“Daarom het ek nou net ‘n geldjie kom vra vir die trein na  Blanko....dis nou om by die begrafnis te kom.”

Yskaswater en “chelsea-buns”, geen geld vir ‘n “train ticket” voor ek nie daai B met my eie oë sien nie!

lewens-toi-toi

Sondag sit dié gesin en tee drink, gesels en kuier. Ma sê: “Onthou julle die keer op die plaas toe die volk so bly was dat die winkel op Waterford (‘n klein naby geleë spookdorpie)  afgebrand het?
“Ja”; maar ons kan nie onthou hoekom die vreugde vure gebrand het in die harte van die plaasvolk nie?
 Ma vertel: “Ek’t hulle mos gevra hoe kan hulle bly wees as die plek waar hulle kos en voorrade koop, dan nou tot niet is? Toe vertel hulle dat hulle so bly is omdat die Skuldboek ook uitgebrand het en niemand nou sal onthou of kan bewys dat hulle skuld op die boek gehad het nie!”
Terwyl ek lekker lag en my ma nog tee skink, sien ek dat sy nog steeds na al die jare nie kan indink hoe mense so kan optree of reageer oor so ‘n slegte voorval waar die winkel afgebrand het nie.
Ek het net by myself gedink – twee dinge:
1. Wat ‘n wonderlike beeld vir genade. In en deur Christus is my skuldboek ook verbrand, weg, “gone”. Laat ek bly wees oor die lewe!
2. Mense se uitkyk en perspektiewe verskil uiteenlopend ten opsigte van die lewe. Hoe wonderlik kreatief skep die Here die mens.

Monday 21 March 2011

Mistaking Overtaking

Sit vanmiddag en praat oor die goeie mense van die kontrei. Dink toe aan iemand wat op ‘n keer die staaltjie vertel van bekendes in die omgewing wat soos volg lui:
Die omie wat maar versigtig was vir die antie, kom eendag van werk af en stop by vriende om in te loer. Siende dat dit nog vroegmiddag was, word hy ook deur die kamerade genooi om ‘n koue te klink – welkom was dit verseker na die lang dag se arbeid.
 “Maar”; stel die oom sy vriende in kennis, hy moet by die huis kom, want sy vrou trek deesdae kwaai baadjie aan oor sy laat kommery. Dis reg so, bevestig die manskappe instemmend – net nog so een dop, dan kan hy gaan.
So gemaak.
Die een dop het toe meer doppe geword en tyd is niemand se baas nie. Om die minste te sê wa man en muis verbaas oor die son wat so vinnig gesak het. Die oom wat net vinnig sou inloer besluit dat dit regtig nou tyd geraak het om in die pad te val. Een van die mede-kamerade besluit om sommer ‘n ‘lift’ te vat op die oom se pad huis toe.
Bekommerd oor sy vrou wat dalk al tuis kan wees, sit die oom toe redelik voet in die hoek om die huis te haal. Sy vrou sal om 8uur by die huis wees en op sy horlosie is dit net-net voor 8uur. Maar hy is nie bekommerd nie, want hy is nogal naby aan die huis.
 Nie ver van die huis nie, merk die saamry vriend op dat die oom se vrou sommer hier vlak voor hulle in die pad ry met haar karretjie – natuurlik oppad huis toe. Om nie twee keer te dink nie, raai die vriend die oom aan om die antie sommer verby te steek en dan voor haar by die huis te kom - kyk dan het sy mos geen rede tot klag nie - die oom is dus voor haar tuis.
So gesê, so gedaan. Die oom het daai petrol plat getrap en die antie verby gesteek– maar wat wou! Brandewyn het nie brieke nie en die voggies het klaarblyklik sy tol ge-eis. Want die antie het toe nooit voor hulle in die pad gery nie, maar  haar motor was ‘veilig’ geparkeer in die erf – en die oom en sy navigeerder se ruimtelike oriëntasie was effe uit. Nooit besef dat hulle toe alreeds in hulle eie erf ingejaag het nie. Met sy voet swaar op die petrolpedaal en die “overtaking”, is die oom en sy vriend toe dwarsdeur die garage-deur!!!

...die antie was min "impressed"

Saturday 19 March 2011

Eggenote van wyle President Paul Kruger

Sy was die vorstelike eggenote van wyle President Paul Kruger. Gebore as Gesina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis ‎op die vyfde dag van Mei 1831; so bevestig goeie bronne die feite.  Bekend as ‘n dame wat haar medemens bygestaan het,  wat bykans deurgaans in swart geklee was en gasvryheid getoon het waar sy kon. Gesina Kruger is lank nie dood nie, sy woon steeds in Naesteadstraat, Cradock – ‘n gesiene dame met ‘n fyn aanvoeling vir die lewe, in swart geklee soos van ouds, gasvryheid soos op min ander plekke te vind, ‘n kinderhart wat soms tjank wanneer sy nie in haar moeder se klerekas kan inklim om warm en beskut daar te lê nie. Haar woonbroer en -suster heet Rebekka en Klein-Jan, haar mens pa en ma is Pieter en Carien Kruger. Stap af in Naestedstraat en wanneer jy by die Karoohuis kom, met die groen-sonbottels bo die voordeur en die hekkie wat enkelhoogte is, gaan gerus in en lui die string klokkies… haar edele Mev. Gesina Swart Worshond Kruger sal jou hartlik begroet en ontvang met ‘n blaf in die stem en ‘n swaai in die stert! 


(Geskryf 8 Oktober 2009 vir my vriend en vriendin, Pieter en Carien Kruger, en hul oogappel-worshond, Gesina Kruger.)

al sak die laaste lig

18 Augustus 2009 : Vanoggend toe ek deur my 'notas' op my foon gaan, ontdek ek die kort gedig wat ek een aand langs die see getik het - iemand wat verlang na liefde in hul lewe:



Soos die boemelaar met die bekfluit, hier langs my by die see,
sou ek nes hy wat wou gee;
want al is die sekelmaan vanaand hoe mooi, 
die skuite wat hul liggies gooi,
branders wat vou teen die kant –
Is daar ‘n verlange verder en langer as die see, wat mens se hart verbrand.
Dis die ding wat sê, 
dat jou hart soms meer wil hê
as pizza en ‘n sterri-stumpie, ‘n jersey of ‘n dak…
dis harte wat mekaar bly soek, selfs tot die laaste lewenslig loop sak

InderHaas


Wanneer jy in die geselskap van dominees, pastore, priester, prekers en priesterlikes kom, dan kan ek jou wed; jy sal lag. Een of ander tyd kom daar ‘n snaakse storie uit.
Ek dink nou aan die verhaal van die dominee en sy gesin wat langs ‘n betrokke goeie ou dame en haar man gewoon het. Kom ons noem hulle Grieta en Gert Geyser.
Wel, die Geysers was altyd pynlik netjies en erg besorgd oor hul tuin en troeteldiere. So was daar hoenders, ‘n troetel haas en ‘n kat of twee deel van die Geyser kroos op die werf.
Die pastorie gesin langs die Geysers , het weer op hul beurt ‘n paar kinders op skool en Jacky, die Jack Russel. Ongelukkig het Jacky die geneigdheid gehad om deur te kruip na die Geysers en dan amok te maak. Dit sou wissel van gate grou tot die hoeders te jaag. Naaste liefde was dus net deur genade behou tussen die bure.
Op ‘n gewone dag soos enige ander, kom die troetel haas van die Geysers tot sterwe. Met goed bedoeldheid, het tant Grieta die hans haas in ‘n skoenboksie gesit en in die tuin begrawe.
Salig onbewus van die dood langsaan het die pastorie hulle gewone gang gegaan. Die betrokke nag na die haas se dood, was Jacky op sy pos. Soos gewoonlik het hy deur gekruip na die Geysers, die nuwe vars grondkol gesien, beruik, bekrap en vir haas uit sy gat, uit sy boks gehaal en heel laas voor die pastorie se agterdeur gelos.
Die volgende oggende nog voor die dag se breek, het Pastorie-ma die agterdeur oopgemaak om wasgoed uit te hang. Met die uitstap strompel sy toe oor haaspastei, skrik haar vrek en skree die res van die huishouding wakker.
Chaos!
Want volgens die pastorie inwoners, dink hulle dat Jacky die haas doodgebyt het. Wat nou?
Ma beraam vinnig ‘n plan om die vrede wat te redde is, te red.
Die kinders word opgekommandeer om sjampoe en warm water te kry – die haas word nou gewas. Gewas is die haas, onder die haardroër, mooi suiwer skoon, gepoeier, bykans soos nuut.
Nou stil-stil word die kinders gestuur om oor die agter heining te klim en die haas weer in sy hokkie te gaan sit. 
So gesê, so gedaan. Slaak van verligting – die plan het sukses.
Tot laat die agtermiddag dat tant Grieta, die voordeurklokkie lui en met vreemdheid en ongeloof ‘n bykans verstommende verhaal by die pastorie kom getuig.
Sy vertel dat die troetelhaas gister seker maar van ouderdom dood is. Sy het die haas begrawe in ‘n skoenboks, maar toe sy vanmiddag by die haas se hokkie verby stap, toe sien sy die haas daar sit.
Dis asof die haas uit die dood opgestaan het – sy graf is leeg en hy is silwer skoon terug in sy hokkie! Merkwaardig – Wonderwerk!
Die heilige gesin het vreemd, dog stemmend geluister, geknik en later toe tant  Grieta Geyser weg is gehik en gesnik soos hulle lag.

Wednesday 16 March 2011

Arm en Eva

Laat middag ry ek terug na die dorp toe, was uit op plaasbesoeke. Die Karoo so groen en mooi soos ek my voorstel dit dalk in Skotland of Ierland moet lyk. Die radio is af, ek hou van stilte. Stilte laat my dink en myself vind, in stilte sien en hoor ek die influistering en dinge van ons Here. Terwyl ek ry, dink ek aan almal wat in die omgewing op die plase woon en werk en leef en rus. Soos ek ry, bid ek ook vir goedheid, vrede en vrugbaarheid.  So dink ek onder andere aan van die plaasonderwyseresse wat ek ken en skielik onthou ek die verhaal wat die een juffrou vertel het in verband met Adam en Eva.
Klaarblyklik het die betrokke juffrou een oggend aan haar plaaskoolkindertjies die verhaal vertel van Adam en Eva, die sondeval, hoedat die Here vir Adam en Eva uit die paradys gedryf het en hulle daarna hard moes werk om ‘n bestaan te maak.
Juffrou se volgende opdrag aan die kinders was, om ‘n prent te teken dienooreenkomstig die verhaal.
Met die merk van die boeke sien sy natuurlik al die verskeie kinderskilderye, die een se paradys is mooier as die ander een sin. Adam en Eva wat agter bosse wegkruip, ander Adam en Eva’s met blare, Adams wat hard werk, die Here wat staan en roep en so meer.

Tog was daar een spesifieke skets wat sy nie lekker begryp het nie. Die skets wat in die Bybelklasboek was, het ‘n lang slap motorkar met ‘n lang slap man agter die stuurwiel gehad, wat effens met sy arm en elmboog rustend by die venster uithang het. 
Duidelik was die juffrou nie beïndruk nie, siende dat die kind nie geluister het na die opdrag nie en weer sy eie kop gevolg het om net ‘n prent te staan en teken na sy smaak.
Die juffrou roep toe die kind tafel toe en vra wat hy geteken het? Hy moet asseblief vir haar verduidelik wat in die prent aangaan?
Die kind verduidelik toe heel eenvoudig, dat die bestuurder van die lang slap kar die Here is en dat Adam en Eva agterin sit, “...want djuffrou, die Djirre dryf hulle mos yt die paradysss  yt.”

Daar het jy dit...of die Here jou uitdryf, uitjaag, uitskop, uitry – uit sal jy uit!


Monday 14 March 2011

ma en 'n bazaar


Dit is 'n week later en my Ma gaan weer na 'n bazaar toe.

Sy leef vir ‘n bazaar, ek glo dis geneties oorerflik, want soos sy, ly (ja ly met ’n lang ‘y’) ek ook aan die selfde genetiese wanpraktyk – kan nie verby ‘n sosatie, bazaarpoeding of gemmerbierbottel stap nie! Verlede naweek oppad terug van die inkopie-sentrum na ons Jeffreysbaai-huis,  bemerk my ma tot haar eie skok en verbasing die banier met ‘BAZAAR’ voor die Metodiste kerkie op en kondig hippertensioneel aan: “Ek het die bazaar vergeet!!!”
Wel, soos ek oor bazaarpoeding is, so is Susan Loraine Juta van Wyk oor ‘n tombola-tafel by ‘n bazaar!  Die einste bazaar wat nog so 5 minute terug vergete was, is glo bekend vir sy noemenswaardige tombola-tafel. “Nerens kry jy hierdie oulike goed nie.”
So het ek onder andere verlede jaar ’n gehekelde tafeldoek persent gekry vanaf die immer gewilde tombola-tafel... en die res van die familie het ook goeie oeste ontvang. Die tee-tand-bevlekte ou antietjies glimlag natuurlik van oor tot oor, oor die vlytige koopster – my moeder -  ‘n  wen-wen situasie vir beide partye ongeag die resessie!
Skaars aangeland by die huis van die winkelsentrums kan die pakkies nie gou genoeg hul plek in die huis kry nie, want die bevel is klaar uitgevaardig; “klim ons gaan bazaar toe.”
Met die verby ry slag het ons gesien dat daar nog redelik baie motors was. Nou ja, met spoed kom ons oorkant die kerkie tot stilstand, missie:  tombola-tafel!
“Vreemd” : merk ma op, “daar is nie die jaar ‘n tent buite opgeslaan nie.” Maar elk geval, daar is baie mense, so kan ons dit skrams deur die kerkie se vensters sien en iemand (seker die dominee) praat nogal duidelik hard. Dit is in die hardloop na die ingang van die gebou, dat my ma vassteek en vir die een bediende wat uitgestrek lê op die gras vra: “Is hier nog bazaarpoedieng?” Toe die swart vrou antwoord: “Nee-a miesies, dis die baagraffanis, dié!”
Dis op dieselfde oomblik dat die orreltjie die binneruim van die metodiste kerkie vul met Amazing grace. Daar kruip moeder en seun van die lag op die grasperk oor die jolige sedigheid.  Kan jy jou indink: tombola-tafel en bazaarpoeding op ‘n kis!!! Ma het toe al die tyd die datum verkeerdelik gelees -  die bazaar is eers 'n week later!

Duiselingwekkend Gekwalifiseerd Gearriveer - Belaglik

Inskrywing -  6:04pm 3 Desember, 2009

Carien kom sit vanoggend en kuier. Vroeë krismiskoek en filter koffie… sy vertel my dié storie uit Parys van die Vrystaat.
Haar ma, ene tannie Mollie Basson (in haar goeie tagtigs), woon daar in ‘n aftreeoord. So gee tant Mollie se yskas gister die gees en die plaaslike yskas-repereerder kom om bystand te bied. Hier volg sy lewensverhaal amusante interessante:
Sy naam ontbreek ons gelukkig, maar volgens sy reputasie sal almal weet wie hy is.
Hy studeer by Wits en ontvang sy kwalifikasies in 1994, die jaar van die oorname. 52 vakke almal Cum Laude, werk as landskap-ingenieur , lê golflandgoedere uit waarvan een by Knysna is, die ander by Nelspruit, ...”maar daar’s nie geld daarin nie.” Hy het ook alle water-spuit fonteine by Sun City opgerig en uitgelê, werk saam met Keith Kirsten (...”maar Antie, daais nou ‘n ongeskikte man”).
So ontdek hy daar is nie geld in landskap-argitektuur nie, doen nog ‘n paar kursusse sodat hy nou uiteindelik 67 kwalifikasies agter sy naam het, natuurlik die res ook ge-Cum. Vanuit hierdie kwalifikasies kan hy onbeperkte werke doen en in enige pos staan… “maar yskaste is eintlik my ding”!
Sy vrou, Amerikaans, was dokter by Tygerberg, reeds dood (dalk die las van al sy kwalifikasies wat haar hart lam gemaak het).
Sy hond – ‘n Russiese albino foksterriër, wat ‘n kilogram gekerfde biltong kry wanneer hy verjaar en ‘n skaaptongetjie met Kersfees.
Hy en sy ma huur op die oomblik ‘n een slaapkamer huisie, maar hy slaap sommer op die divantjie in die sitkamer. Daar staan 39 yskaste waaraan hy tans werk. Sy ma bêre die melk in enige yskas wat daar staan. (Kan jy dink hoe sy soek na die melk die volgende more! en hoeveel is reeds vrot van die vorige weke!)
Hy het ‘n plot vir sy ma gekoop in die spog woonbuurt van Vredefort, die verkoper wou R30 000 hê, ...”maar ag Antie, toe kry ek die verkoper jammer en gee hom sommer R50 000.”
“Het Antie ‘n haardroër? Want ek wil die yskas blaas sodat die gas kan afsak… dissie ommie ys te ‘defrost’ nie, dis laat die gas sal afsak.”
So is mnr. X-kas daar weg met tant Mollie se yskas. Hy kon nie weer die yskas gisteraand aflewer nie, want sy bakkie se ‘bearings’ het vasgeslaan.
Tan' Mollie sê altyd; “Moenie dink omdat ek oud is, eks dom nie.”

Sunday 13 March 2011

...sommer vir almal wat soms so voel


gevoel is geen praat-taal nie,
al is sy klank deels  lag, deels sug, ‘n wag,
‘n snotbetraande huil,
want skoonskeer, “dress” en tof,
oppervlakkig-diep dinge praat is snert, is stof.
Dis net vir kyk en lyk,
hetsy arm, midman, ryk.

Maar gevoel is steeds geen praat taal nie,
ek kry nie sy woord gesê,
al weet ek soms ...en soms presies,
wat dié hart wil hê
al klop en skop dit als verwoed,
al skree dit hard en luid... 
geen klank in woord kom klinkend heeltemal verbatim uit

Tuesday 8 March 2011

die Holden bakkie en my Pa

Hier in die dorp loop ‘n deurleefde groen Holden-bakkie. Lemmetjie- advokado- budgypoepgroen. Kennelik pragtig! Soms die draer van mense, ander kere weer sakkies vol lemoene wat by die oop agterklap en kappie uitsteek. Bo op die dak van die kappie en voor op die enjinkap neffens die ruitveërs  pryk dit – geel bolle op ‘n groen skinkbord. ‘n Mooie glimlag. Geen lemoen of mens val af nie – die drywer (iemand het eenkeer gesê; Net ‘n drol dryf in water) dryf so versigtig en knap dat selfs die oorle Queen Mother met eer op die enjinkap tussen die twee sykant spieëltjies sou kon vashou en geeltand wys.
Wanneer ek die mooi gesig in J.A. Calata-straat sien, dan sien ek die blou Holden uit my kinderdae.
Dit sal ‘n Saterdagoggend gewees het dat ons weer die groot dromme, wat reeds op die Holden se bak regop staan, vol water sou maak. Die rede; om water af te ry Ou Lande toe vir die vee. Die eerste slagting was by die eerste plaashek dié betrokke dag. Nou hoe dit werk is as volg; my Pa en oupa Ben sou voor in die Holdenbakkie sit en ek en Riaan sou dan agterop staan, ietwat teen die venster – twee kleinerige seuntjies, seker so 7jaar en 4jaar oud.
By die eerste plaashek gekom, was ek sekerlik te lui of my brein dalk te innoverend – soveel so dat ek nie soos ons geleer is, die plaashek optel en oopstoot nie, maar eerder die plaashek oopknip en probeer oopgooi. Groot fout! ‘n Plaashek wil nie gegooi wees nie, hy gooi terug. En so was dit nie anders die dag nie – daai plaashek slat my vol op die bek! Bolip bebloed en stukkend, snot-snot - bloedbekkie en vol trane klim ek weer op die bakkie nadat Dad vermaan en getroos het. Ek besef nou hoe baie my pa se geduld tog die toetse deurstaan het. Wel so kom ons uiteindelik uit waar ons wil wees, maar die paadjie is maar redelik skuins en wipperig. En sonder dat iemand dit verwag het, in ‘n draai, besluit die vrag vol waterdromme om vorentoe te val, bo-op ons twee boeties. Wat ‘n skok – op ‘n wonderbaarlike wyse kom ek uit tussen die dromme, maar Riaan wat nog maar ‘n klein wilde blondekop seuntjie was, word vasgedruk deur honderde liters vol yster dromme met water. Bloed teen die ruit en ek wat skree dat my pa iets moet doen. Wonderlik dat mens instinktief roep in nood tot die wat jy glo sal kan help – gewoonlik in die vorm van ‘n Pa.
Ek onthou dit asof dit nou gebeur, Dad wat terwyl die ou blou Holden teen ‘n baie lae spoed in die 2 spoor paadjie ry, uitspring – my oplig tot skuins teen die dak van die Holden, homself in wurg tussen die dromme, dit met sy rug terug stoot en vir Riaan uitruk. Intussen is oupa Ben, in sy tagtigs, salig onbewus van wat gebeur, hy rook sy pyp en staar net die veld in. Die Holden het dood geruk. Riaan gered, tande deur die lip, die voorkop en lyfie stukkend en seer.
Verflenter en vuil het ons die dag weer terug gekom by die plaas opstal– gelap en gepleister  om maar net weer later vredevol te speel op die werf.
Wel as ek die groen Holden in die dorp sien, dan sien ek die mense daarin, die lemoenesakkies en die welbedrewene, maar ek sien ook die Pa en sy twee seuntjies en ‘n storie vol van lewe verder aan.

sien en sien - luister en luister - lewe en lewe


Die kantoor telefoon lui gisteroggend  en ek antwoord. Die stem aan die anderkant van die lyn: “Hallo ek is Elsa van Tzaneen. Ek weet ek vra nou iets vreemd, maar is ek nou by die kerk wat die twee orrels het?”
Ek antwoord bevestigend.
Na ‘n kort bekendstelling per telefoon gaan sy voort:
“Ons toer so bietjie deur die Oos Kaap en ek wonder of daar dalk ‘n moontlikheid is dat ek op die orrels mag speel?”

Dit is altyd lekker om besoekers by ons te kry, so wat ‘n lekkerte om haar te nooi om te kom kuier. Die vrou noem dat ek geduld moet hê en dat sy sukkelend speel. Nou ja, wat om te verwag die weet ek nie. Ons maak ‘n afspraak vir min of meer etenstyd  vandag. Sy sal bel as hulle voor die kerk stop.
Sy bel 12:40, maar ek is nog 25km buite die dorp op plaasbesoeke. Sy vra; sal ek jaag? Ek sê nee, ek vlieg alreeds ek gaan nie nou stadiger vlieg nie. Ek kry haar en haar man voor die kerk onder bome met hul swaar-toer-belaaide Landrover en sleepwa. Dick stel homself voor en uit die anderkant van die Landrover roepgroet Elsa: “Hallo”.
Ek stap om te groet en sy wys my daarop dat sy bykans geen sig het nie en ek haar asb. moet help om tot by die ingang van die kerk te kom. Ingehaak aan die arm met ‘n “pasop” hier en daar, maak ons dit tot by die orrel.
Elsa vertel in kort dat sy deur breinbloeding blind geraak het en dat haar een oor ook aangetas is.
Ek help haar sit voor die orrel en registreer die instrument.
Sy het ‘n boekie waarin met ‘n gekronkelde skrif kernagtige woorde geskryf is en vra my om te lees wat daar geskrywe staan. Dit is haar notas.
Sy begin speel en woorde ontbreek en ontgaan my. Wow wow wow. Soveel so dat ek eers by die tweede improvisasie wat sy doen, self registreer wat sy speel:  Hoe glansryk blink die Môrester.

Elsa speel my stil.

Improvisasie soos die meesters oor die grootwaters leepoog sal begeer om te kan doen! Gesig- en deels gehoorgestremd, maak sy en die orrel die mooiste musiek. Ek sien haar vingers beweeg en besef, maar dit is nie hoe ‘mens’ geleer word om te speel nie.
En daar tref die les my weer: Die Here vra nie hoe ek lyk, wie ek is en waar ek vandaan kom nie – Hy is kreatief Almagtig.
Om ‘n doel te bereik het meer as net een weg te volg. En toe sy Hoe glansryk blink die Môrester speel, besef ek dat die Môrester ook haar lewe bereik het en ondanks blindheid, daar ‘n lig wat energie is, haar bekragtig om te kan skep soos sy skep. En dat die Lig my asem steeds keer op keer kan laat wegslaan van verbasing. 

Wat ‘n voorreg om vir Elsa de Bruyn van Tzaneen te kon ontmoet.Ek besef, terwyl sy speel, dat musiek iets beskryf van hoe gevoel klink. Dit was Ludwig von Beethoven wat glo eens gesê het: Musik ist der Vermittler zwischen der geistigen und der sinnlichen Leben. Of vertaal: Musiek is die tussenganger tussen die geestelike en die sensuele tasbare lewe.

O Môrester wat ons verlig, voor wie die nag eens sal moet swig, o verlig my, leer my, rig my, Vors van ere! Uit: Liedboek van die Kerk 372:3

Sunday 6 March 2011

As ons almal blou mussies dra...que sera sera

Mense bly fassinerend
2 weke terug 14:38 skree die telefoon die Sabbatsmiddag uit sy hibbernering.
“Hallo, dis Serah.”
Ek eggo verstotterend: “Hallo Serah”, effens geskok oor die tyd  op ‘n Sondagmiddag. Ek onder ‘n duidelike wanindruk dat meeste goeie mense in die Karoo dorp op die tydstip rustend verkeerd.
“Dominee, ek wil net hoor wat is julle opinie oor die beoogde standbeeld in Swede? (stilte) Ek meen nou oor die een wat hulle wil opsit wat ‘n afbeelding van Jesus is?”
Ek vra meer duidelikheid oor die aangeroerde saak en sy antwoord: (Ek het dit goed gedink om nie alles hier te probeer neerpen nie, maar bondig saam te vat – siende dat die gesprek effens oorbodig lank was.)
Serah: “Jy sien ek meen nou dat julle as predikante iets moet doen omtrent die saak, want in die Bybel sê die Here duidelik dat daar geen afbeelding gemaak mag word nie. En nou wil die mense ‘n beeld van Jesus opsit. Ek voel dat dit nie reg is nie en dat mense nou voor die beeld gaan buig en nie die Here raaksien nie. Dit is nie al nie, in Suid Amerika in Rio de Janeiro, gaan hulle ‘n groot standbeeld ook van Jesus opsit. Kan jy nou dink as die goed nou daar gaan staan wat sal alles gebeur?”

Ek is eerlik, op ‘n Sondagmiddag net voor 3, kan ek nie aan een ding dink wat  “alles sal gebeur” nie. Maar siende dat ek gebel is vir raad of ‘n opinie of om ‘n oor te wees – “hum en haa” ek so met fatiese kommunikasie. Nadat ek seker 5 keer die vraag moes hoor, hoe ek nou die saak gaan aanspreek? – net ter herinnering – ek is ‘n predikant werksaam in die Karoo, ‘n entjie weg van Swede of Rio! – toe antwoord ek.

“Serah, die beeld in Rio staan al vir etlike jare en die kerk denominasie daar teenwoordigend is die Rooms Katolieke Kerk. 
Die NG Kerk, die AGS, die Methodiste, die Anglikane of geen ander kerk hoef hulle te bekommer oor die werksaamhede van die Rooms Katolieke Kerk nie – die Here sal hom daaroor bekommer en dit uitsorteer as dit nodig is."

Serah: “O ja, jy sien ek het nou maar net gehoor van die saak by ‘n vriendin. Sy't  'n artikel in die verband gelees het.”

Ek vra toe: “Serah, het jy foto’s of skilderye in die huis?”
‘Ja sy het en sy brei ook uit daaroor.’
 “Enige aandenkings of mooi goedjies soos ornamente?"
Ek laat haar klaar vertel.
“Wel dit is ook afbeeldings, maar jy sien dit mos nie asof dit die Here self is nie? Kom ons sien eerder die Here raak in die wonderlike handewerke van die mense waarvoor die Here die kreatiwiteit gegee het om te kan skep en mooi goed te maak. En kom ons bid eerder saam dat wie ook al die mooie handewerke sien, die Gewer daarvan sal raaksien. Ek hoop regtig jy het ‘n lekker dag. Die Sondagmiddag lê nog voor jou en ek dink dit is die ideale geleentheid om weer al daai mooi goed in jou huis af te stof. En wanneer jy by elke foto of ornament kom, sommer te bid vir die een wat daarop verskyn of wat dit vir jou gegee het. Vra die Here dat hulle hom sal raaksien en nie die mens gemaakte sake nie.”

Sy was stil....en dit was ook die einde van die gesprek; Que Serah Sera, what ever will be will be.

Buite Nag


Ek sit buite in die Karoo se nag –
asemrowend prykend spoggend prag
Lyk my die Here het dik swart fluweel tussen hemel en aard kom drapeer
Ek sien die ster se skyn, skitter skans, eers enkelvoudig, dan sterre, meer en meer.
My verbeelding sien mot gevreete gaatjies in die pik swart doek geprik -
aan dié se keer kant is Lig, fees-geluk,
engele wat dansend laggend sing
wat liedere, vreugde tot die Ligbron bring.
En dan en wan is dit ‘n  engel wat verby die gaatjies plekke stap
en die skynsels laat lig-dof-lig-dof  flikker op die lap
Die melkweg is kompleet skifplek op die doek –
 wil wil deurskyn, hang af van die Ligvalhoek
en ek verwonderd wens om anderkant die swart gordyn  te wees
met odes by die Vryheidsfees.
Laat motte-roes die gate groter maak en alles hier vergaan
en die Fees daar buite bly voort bestaan
...bewaar my hier waar ek sit of gaan,
bewaar my met ‘n kindsverstaan.

Friday 4 March 2011

Geleende Tyd


Ek lê vanoggend in die bed, my Ma bel my en gesels sommer oor die komende naweek se kuier... “en moenie kosmaak nie, ek bring sommer ‘curry-bunnies’. Haai Ouboet vanoggend het ek so aan jou gedink toe ek ‘n Pietie(klein swart goggatjies)  in die huis kry. Ek’t vir Dad gevra om die Pietie uit te vat. Onthou jy nog hoe jy die Pietiesin die huis ingedra het. Die hele huis was altyd vol Pieties. En die naweek was daar in die Jeffreysbaaihuis ook een.” 
 Ek groet my ma en lê verder onder die komberse, draai my kop na die bedtafeltjie en ek sien toe die paraffienlamp wat daar staan. Ek hoor dadelik die voëls buite en dis asof ek terug is in my kinderskoene. Dis wonderlik hoedat sekere oomblikke, al is jy ook nou groot, jou so maklik kan terugvat na ‘n tyd ver verby. Vanoggend was dit so, Ma se stem, die beeld van my wat swart goggatjies vang en in die huis in bring (want hulle kry koud buite), Ma se curry-bunnies (wat sy in ‘n plastiekwinkelsak toegedraai het, want dit bly die varste so ((dis regtig waar!)), die paraffienlamp en paraffienreuk  en die voëls buite. Daar êrens op Bo-plaas in die ou plaashuis waar jy in die aande bang was vir spoke, in die dag vryer was as ‘n kransdassie  en in die aande vas geglo het dat jy glad nie ‘n bad nodig gehad het nie.  Waar Ma nadat die groot pot badwater op die houtstoof gekook was, jou soos ‘n vark geskrop het met ‘n naelborsel om net weer na ‘n menskeent te lyk, ja daar waar jy letterlik soms so pootuit gespeel was, dat jy met jou kop op die etenstafel aan die slaap geraak het. Ek sien nog die ou groot geelhouttafel met die donker groen sybokhaar  tafeldoek, die twee paraffienlampe, die ou porselein ‘square’borde, die beenhefmesse, die ‘strawberry’motief bekers en dis asof ek die lekkerste heuningbostee in die wêreld weer proe. Ek ruik en hoor die paraffien-yskas in die spens. Ek sien hoedat Lorraine die ketel weer vol water gooi en op die houtstoof in die es sit. Dis daar waar jy in die oggend nie kon wag om op te staan nie, as die eerste ou haan net gedink het om ‘ê’ te sê ; was ek en my boetie al in die kombuis besig om die fynhout in die stoof te pak en die vuur aan te steek. Dan net daar langs die stoof te sit, ‘n lang  fynhouttakkie te vat en in die vuur te speel. ‘n Kooltjie te maak en so in die lug rond te swaai.
En ek moet myself regtig forseer om weer myself terug in my bed, in die realiteit terug te kry en te besef – dit is verby. Vanoggend was ek sommer by die nostalgie ook bietjie hartseer oor baie dinge ander dinge, oor die mooi en die minder mooi dinge van die lewe, maar wat ek wel besef, al is dit ‘n moeilike konsep met tye – is dat hierdie mooi en ander dinge net ge-leende –tyd is. Prediker sê mos; daar is ‘n plek en ‘n tyd vir alles. En weereens vanoggend besef ek dat die woord geleentheid eintlik so ‘n gelaaide woord is. Geleentheid is Ge-leende-tyd -  is God-gegewe tyd. Net geleen aan my. Mens moet iets wat aan jou geleen is, oppas en mooi gebruik, want dit word weer iewers terug gegee. Daarom glo ek sê Jesus in Kolossense en Efesiers: maak die beste gebruik van elke geleentheid. Jesus gaan nie eendag ons net links en regs uittrap en vertel waar ons alles verkeerde gedoen het nie – nee, ek glo hy gaan sê; “Hier was vir jou ge-leende-tyd. Vertel my watse wonderlike dinge jy daarmee gedoen het.”
En ja, soos ek sê soms raak mens hartseer oor dinge wat toe nou nie verander het nie, dinge wat jy anders wou hê en dis toe dat vanoggend se teks in  Lukas 7:13 my weer vat:  “Moenie huil nie!” Wanneer Jesus hierdie woorde vir die weduwee sê wat haar kind verloor het,  is dit nie omdat huil ‘n verleentheid is nie, maar omdat Hy geweet het, Hy gaan haar hartseer wegneem. In hierdie opdrag van Jesus lê die wonderlikste belofte verskuil. Hy het die mag gehad om te sê “Moenie huil nie!” (‘n sagte bevelsvorm), want Hy kon die oorsaak van haar trane wegneem. Hy kon meer doen as om haar net menslik te vertroos. En onwillekeurig hoor ek ook die woorde van Openbaring 21:4 “ Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verby gegaan.” Geleende tyd gaan ook verby.  En ek hoor Here, dat trane net vir hierdie aarde bedoel is. Ek glo in ‘n nuwe hemel en ek glo in ‘n nuwe aarde!!! Dankie vir geleende tye.
Mag jy vandag lewe, dis die mooiste geleende tyd want vandag is net vandag daar!

Thursday 3 March 2011

Jy sal my lag weer hoor


Jy sal my lag weer hoor met die eng’lekoor
Die dag as die laaste lewensklokke lui


Vrygemaak, geen tyd, geen perk
verby, verby .... die grens van denke, sugte, arbeidswerk

Bokant sterre, onder son -
die maan wat hang as ‘n ligballon

Hier sal ons, ons kan wees
Gans anders, met siel, met lyf, met gees

Ek sien uit om jou lag te sien
              
Daai dag 

van my terapie

Om laatnag in my onderbroek buite in die reën te sit en skoon te was – dit is terapeuties
Om voor die “sink” te staan en skottelgoed skoon-skoon te was, aanhoudend – dit is terapeuties
Om laatnag kerk toe te gaan en orrel te speel – dit is terapeuties
Om in stilte te sit met min of bykans afwesigheid van klank en net te bepeins – dit is terapeuties
Om kos te maak en deeg te knie – dit is terapeuties
Om te skryf – dit is terapeuties
Om uitbundig sonder vrees te lag – dit is terapeuties
Om te huil dat ek snak na asem dat selfs my neus loop – dit is terapeuties
Om te lewe is terapeuties

muis-geleerdheid

In retrospek en gou gesê ; ‘n goor dag. Met nadenke oor uurlikse gebeure, dalk tog nie. Dit was toe ek en my Interieurs (huishulpe) – Beauty en Jane – vanoggend die een sitkamerstel finaal verwyder uit die huis, dat ek glimlag. Al sukkelend om die drie sitplekbank by die kantdeur uit te kry, sê ek vir Beauty en Jane: “Draai net die bank na die anderkant toe, dan sal dit uitgaan”. Beauty wat amper die bank daar en dan laat val om haar hande van verbasing voor haar mond te slaan omdat die bank nou ewe skielik kan uitgaan by die deur, sê toe aan Jane: “Shee-nie Jane, kyk die Prrrerrikant het hom galeer by die skol (skool)!”
Vanaand kuier ons om pannekoeke in die kombuis en sjoerts hardloop die streepmuis verby die lot vriende wat sit om die tafel. Die helfte gil, die ander gril, die ander bak rustig voort. 
Dis toe dat ek vra; “wie het nou weer die raad gegee om eerder ‘n taai toffie in die muisval te sit”, dat Pieter antwoord; “Ons, want dan eet die muis nie so gou die kaas af nie, maar knaag langer aan die toffie.” En daar lag ek van voor af. ‘n Toffie-etende muis. Tye verander drasties. Maar toe vertel hulle van die keer dat Pieter druiwe konfyt gekook en oornag laat afkoel het op die kombuis tafel. Die anderdag more, toe vind hulle ‘n versmoorde muis met sy snoet in die konfyt! Die konfyt was glo so taai dat die muis skynbaar nie uit die doodsgreep kom los kom nie – whahahaha. Aan die eenkant kon dit ook sekerlik ‘n lekker manier van selfmoord wees, ai die lewe bly ‘n raaisel. Toffies of konfyt, jy leer hom by die skol!

die Kleur van 'n hond

Ek moet sê, as kinders het ons nie altyd die beste en nuutste speelgoed gehad nie, maar my ma het altyd op kreatief innoverende wyse gesorg dat ons twee seuns in elk geval nie daarna sou verlang nie. So kan ek onthou dat my ma op ‘n dag na werk tuis gekom en aangekondig het dat ons vandag vir Smurfie en Babbels (  twee semi-opregte wit miniatuur poedels) se hare gaan kleur. Sy het uitgevind dat ‘n mens blykbaar ‘crinkle paper’ gebruik vir die kleurproses. Die resep verloop soos volg: Jy draai as te ware die hond toe in die stuk kreukelpapier van jou keuse – ma se keuse was rooi, met die doel dat die honde dan nou lig pienk sal uitkom. Stap een voltooi; honde toegedraai in rooi kreukelpapier. Stap twee; maak die kreukelpapier nat sodat die rooi kleursel afgee op die hond se hare. So gedaan.  
Maar met die verwydering van die papier was die poging duidelik onsuksesvol en die honde het nie eers ‘n fraksie pienk getoon nie.
Wel, niks bring my ma van stryk nie...die doel van die oefening was om die honde te kleur...en kleur  sal hulle gekleur word. So besluit sy om die rooi koekkleursel nader te sleep en om die minste te sê; die uitkoms was ‘n dawerende sukses! Skreeu-pienk honde! In ons noppies het ons die honde vertoon aan vriend en vyand met uiteenlopende reaksies!
Nadat hulle hare weer uitgegroei was, het my ma besluit dat pienk darem ‘n te ordinêre kleur vir honde is. Smurfie en Babbels sal nou GROEN wees!
Al wat die buur tannie geskree het; ‘n Groen hond?!
Ek bel nou my ma en vra of sy al die dinge onthou, “Ja”; antwoord sy, “Niemand of niks het ons onder gekry nie, ai die tye het net so vinnig verby gegaan.”
Ek is so lief vir my boetie en my ouers en die lewe wat heerlik saam met hulle is!

Blok my... vrou

Dikwels in die dorp hoor ek die vraag; wanneer kry jy vrou?
Die ding is, daar’s min wat sal pas of waarvan ek hou,
(so my liewe antietjie, vergeet dat ek trou)
Ek lag dan skaam en sê dan fraai;
ek bid nog al die pad vir haar, maar haai
dink sy’s vroeg dood nog voor ons ontmoet,
so het sy my stil-stil gegroet.
Die plan is ‘date-a-grave’ wat ek nou het,
redelik platonies, ongesteurd, tog pret.
Eintlik in perspektief - die ideale vrou,
Jy vat net blomme, sy’s nooit ontrou.
Stil soos die graf, praat niks tee,
koste effektief beslis, ja-nee!
Soek jy haar weet jy altyd, altyd waar sy is,
mooi gewit in haar rokkie van kis.