Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Tuesday 8 November 2011

Mis Stap


In my stilword tyd, vanoggend, kom die teks uit Genesis 3 – die sondeval. Eva, die slang, die werk van satan, Adam, die Here. Die versteurde verhoudings wat die mens hul self kan uitdink, redeneer en beliggaam sonder om God werklik, werklik in die detail te ken. Die Here ken my-Sy-tyd om die boodskap te gee soos dit pas in my ritme, keer op keer. Ons praat met mekaar oor ‘n klomp sake. Onder andere hoe ek so besig kan wees met die goedheid wat Hy gee, dat ek so goed omgaan met die goedheid wat Hy gee, selfs in my kennis en wysheid wat ‘n gawe is van Hom, maar in Sy goedheid vir Hom wat die Gewer daarvan is, kan mis. Soms dink ons, ons raadpleeg Hom, maar doen ons? Baie keer is ons soos ou Adam en Eva vasgeloopdes, menslik gesproke. Maar,... en genade is die ‘maar’ wat God, God maak en nie ‘n vasgeloopde nie....’maar’, Hy kom soek sy skepsel altyd weer op. Hy is deeglik bewus van ons en die hele situasie, maar hy gee die geleentheid – hoe mooie manier van liefde wys – vir die mens om self terug te keer en te antwoord as Hy ‘maak’ of Hy ons soek. Haai, die Here hoef ons nie te soek, soos Hy gemaak het met Adam en Eva nie, want Hy is dan die Skepper van die plante en bome en alles – Hy sien reg deur die ‘blare’ en die ‘pooglike-bedekkings’ van ons lewe. Die mooie mooi, is dat ons moet sien en weet, Hy IS daar en soos in ‘n goeie verhouding, gee Hy ruimte ook vir ons om tot verhaal te kom. Wel, dit is die oggend ontdekking. Ek bid toe en vra onder andere dat Sy Gees my sal help om voortydig plan te maak met vasgeloopde paaie wat kan uitdraai en dat versoening sal geskied.  Dit was 05:00h vanoggend.
‘n  Uur en ‘n half later, gaan skakel ek die tuinsproeiers aan om die bar grond waar daar die afgelope tyd gewerk is, nat te maak sodat daar weer gras kan groei. Dit is los modderige grond. Bykans onafwendbaar, trap ek in die modder in die proses om die sproeiers beter te versprei. Met my hande krap ek die modder en graswortels om die sproeier koppe weg vir beter aksie van die sisteem. Bemodderd dink ek, sjoe ‘n mens kan in jou gewone doen dinge van die lewe bemodderd raak, maar gelukkig is die sproeiers en water daar sodat ek in die modder my kan skoon kry. Vanselfsprekend trek ek die metafoor deur na wat ek vanoggend gelees het – soms bemodderd, maar Christus bewerk versoening deur die afwassing daarvan – oulik die ou toepassing, dink ek. Jap, totdat ek in die huis wil instap...die bietjie modder wat nog op die sool van my oefenskoene vassit, sukkel om af te kom. Ek kap en stamp my voete harder en harder op die trappies van die agterdeur, maar nee wat die aanpaksel klou. Weereens stap ek na die sproeier en hou my skoen se sool bo-oor die sterk spuitende water. Na berekening moet dit af wees en ek kyk weer....honde mis...lekker vars honde mis....dit SIT! Weet jy, die Here praat so duidelik met my daar staande in die tuin, in die modder by die sproeier: Soms dink jy dis vuil en bemodderd en dat ‘n afwas en vergifnis maklik kom. Want ons almal raak vuil deur die gewerk in die lewe, maar soms in die gewerk trap ons in honde stront sonder dat jy dit weet.  En dit is eers wanneer ons ander terreine wil betree en plekke wil heen gaan, dat die smetsel ons terughou. Om honde mis af tekry, is ‘n proses, dit vra ander stappe, ander maniere van plan maak, ander maniere van dink, ander paaie loop.
Ek vra dadelik: Mag u Gees my nie net help met die modder in my lewe nie Here, maar ook die onwetende kleefsels wat my soms eers later inhaal in die lewe.
 Want jy sien;  ek het ‘n keuse gehad om as te ware deur die modder te loop. Op my eie Here het ek mos my plan gehad om die modder te hanteer, maar die ander bevuilsel wat tussen die modder vebloem was...ai, my sig was te min en my planne onuitgewerk. Dankie dat U my kom opsoek, al ruik ek soms na honde mis, al hop ek een-beentjie rond in die lewe. U is my Here en my God, die een by wie ek my skoene kan uittrek.

Wednesday 22 June 2011

verwondering


Verlede week gaan dit rof en effens deurmekaar by my ouerhuis, klomp dinge moet gelyktydig in Pa en Ma se lewe gebeur en hulle vat skaars grond. So breek Woensdag aan, Ma se eerste chemo gaan begin, Pa het klomp ander sake om af te handel dié dag, redelik besig.
Die betrokke dag is my motor is in vir ‘n diens en ek ry met ‘n bruikleenmotor. Gracey, my ouers se huishulp, moet weggebring word en ek bied aan om haar huis toe te neem sodat Pa en Ma hulle sake kan orden.
Gracey klim in die spik-splinter-nuwe Volvo in en ek kan sien sy is in verwondering. My GPS is in en aan en ek vra vir haar wat haar woonadres is sodat ek dit in die GPS kan invoer. So gesê, so gemaak. Gracey vra my na ‘n rukkie: “Waffêrre ding is dié?”
Ek verduidelik dat ek vir die vrou (GPS) sê waarheen ek wil gaan en dan sal sy my soontoe neem.
Gracey tuur in ongeloof na die boksie. “Dit kin mossie waar issie.”
Ek glimlag en verduidelik dat ek net op die pad wat pienk aangedui is moet ry en moet luister hoe sy vir my voorsê waar ek moet ry, dan sal alles reg wees.
Ons het seker al so 10km gery toe Gracey met ongeloof vra: “Waar bly die vrou?”
Ek besef toe sy verwys na die GPS en sê: “Gracey, vanaand as dit donker is, dan gaan jy uit jou huis na buite en kyk na die sterre. Dan gaan jy sien daar is sterre wat beweeg, dit is satelliete. Die vrou se boodskappe kom van daardie sterre af. Daar hoog bo uit die hemel.”
Gracey het net haar kop geskud en gesê: “Dies dan Michael Knight se kar!”
Na ‘n verdere ent se ry, kom dit weer van Gracey se kant af: “Hoes dit dan dat die vrou vi ons sien, maa ek sien dannie vi haa nie?”
Ek het net gesê: “Moenie worry nie Gracey, sy weet maar al die dinge.” Ek het by Gracey se plek gestop, sy het uitgeklim. Die ko-ordinate van die plek het ek ingesleutel om weer vir Gracey die volgende oggend op te laai. Gracey het langs die kar gestaan, ingekyk by die ruit en gevra: “Wat maak Meneer nou?”
Ek het gesê: “Ek vertel vir die vrou sy moet onthou waar jy bly, dan kan sy jou makliker more weer kry as ek haar vra waar jy bly.”
Gracey: “Nee togga, is ook maa goed eks uit die kar uit, want daai vrou weet glads te als van mens se lewe!”
Ek het net gelag, gegroet, gery.
Die volgende oggend 07:15 het daar ‘n gehoor gestaan om van Gracey afskeid te neem die dag...en natuurlik om Michael Knight se kar te sien.
Verwondering. Mag ons dit nooit verleer of verloor nie.

elk met verskillende gawes


Ek het so lanklaas geskryf.
Geseëndheid is die bewustheidsbegrip in my lewe die afgelope twee weke – wonderlik gelooflik. Sal later meer hieroor skryf. Maar dit is die agtergrond, ek voel  en is ‘n geseënde. En vanuit die diepgeit sien ek nogal ‘n paar dinge anders. Baie vroeg vanoggend, toe ek verby die vrou stap in ‘n plaaslike kafee, dring iets my om eerlik vir die dame agter die toonbank te bedank vir haar vriendelikheid en goedhartigheid teenoor ander mense. My dank was iets in die lyn van; Dankie dat tannie entoesiasme en goedheid uitstraal, dit inspireer my nog meer vir die dag.
Die vrou, lag en ons maak kortstondige goedheidspraatjies terwyl ek by die kafeedeur uitstap. Sy stap so neffens my saam by die deur uit met ‘n : “Tatta, geniet jou dag.” En direk daarna sien sy die SASKO-broodtrokkie raak en trek los in ‘n plaaswerf stem teenoor die insittendes van die trok: “Fôkof!!! Die ander mense wag vir hulle brood!!!”
Nou ja... entoesiasme het nie ontbreek nie en volgens Paulus het almal verskillende gawes... "as dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig." Romeine 12:8

Monday 18 April 2011

Vlooie, jellie, kerkklok, jou neus gaan groei, jy jok, jok, jok


Al die onderskeie gesegdes en lawwe ou vrou stories wat ek as kind aangehoor het, is bykans vergete. Wonder of iemand, êrens, iewers ‘n verhandeling hieroor moes skryf? Die titel dalk: Die ontwikkeling van tiener tot adolosensie  - psigiese letsels deur ou vrou stories. Klink vir my na ‘n Maretha Maartens  “best seller”.
Elk geval, so dink ek toe aan ‘n paar gesegdes van kindsbeen:
 “ Pasop, moenie die pitte van die peer insluk nie, want daar gaan ‘n boom uit jou groei”
of
wanneer jy ‘n lelike gesig sou trek, waaraan jou ouers ‘n afkeur het: “as die kerkklok lui, gaan jou gesig vir altyd so bly staan.”
‘n Ander een waarin my pa homself natuurlik verlekker het, het as volg verloop; wanneer ons jellie as nagereg gekry het,  het my pa dan luidkeels, waarskuwend aangekondig: “Pasop as jy die jellie insluk, want dit gaan dwarsdeur jou gly en onder by jou boude uit spring.”
Hierna het hy dan vir ons gesê en beveel om ons een hand wat vry is, onder ons boude te hou sodat ons die uitgly jellie kan vang. En elke keer het ek verwag dat dit een of ander tyd sou gebeur. Soos ‘n kindernar sit ek daar met die een lepel vol jellie (sukkelend om dit bo te hou) en die ander hand onder my boude.

Tot vandag toe verpes ek om jellie te eet.

Soos ek sê; ek weet nie of daar al iets in die verband geskryf is oor die invloed van hierdie soort gesegdes nie, maar kan jy jou vir ‘n fraksie indink indien enige van hierdie bog stories waar kon wees?
Om sommer die eerste voorbeeld hierbo aan te raak; “ Pasop, moenie die pitte insluk nie, want daar gaan ‘n boom uit jou groei.”
Wel, ek weet nie waar die boom gaan uitgroei nie, of by jou naeltjie of by jou hol. Kom ons skets die scenario dat dit nie by jou naeltjie uitgroei nie, nè.... Ek sien al hoe loop mense met peerbome al slepend agter hulle aan. Effens problematies, want aan die een kant help hulle om die straat skoon te vee, maar terselfde tyd mors hulle blare en pere sover hulle gaan... veral as die pere nie  behandel is of gespuit is nie – die goed wat begin ryp raak, vrot en afval. Ek sien al in my geestesoog die klomp vrugtemotte en voëls wat agter jou aankom in die hoop om ‘n proetjie van die pere te smaak. Dalk vrugte smouse wat by jou boude kom vrugte steel om weer aan ander te verkwansel. In die winter wanneer die takke kaal is, raas die droë tak spul verskriklik soos dit nou agter jou stêrre aansleep. Kan jy jou nou indink as so peerboomgat kom kuier en in jou huis moet in – jy sal moet keer vir daai stert en hom of haar ook weghou van enige kers of vuur. Daar sal dus geen romantiese etes aan so Peer gegee kan word nie. Die scenario kan nog meer vererger indien die persoon as kind reeds die pit ingesluk het, dit wortel geskiet het, gegroei het en nou op 87jarige ouderdom, die persoon ‘n 84jarige peerboom moet saam sleep. Wel ten minste sal die individu heerlike skaduwee hê om onder te rus indien hy op sy maag sou lê. Aan die ander kant weer, wat as die persoon erge sinusitis het en in die Lente die bloeisels en bye begin pla? Jy sal net Sinutab-sproei en Doom ruik.  Ten minste, indien hy of sy wel ‘n ou windjie sou laat, sou dit ver’bloem’ wees deur die bloeisel aroma.
Ek weet sommer jy kan nog aan veel meer opsies, tragedies en gevolge dink indien die gesegde:
“ Pasop, moenie die pitte insluk nie, want daar gaan ‘n boom uit jou groei.” wel waar was.
Hier is nog ‘n paar ander wat ek kan onthou: “ Moenie te veel koffie drink nie, jy gaan vlooie in jou maag kry!”  Ek wil my nie eers die gevolge hiervan indink nie. Kinders jeuk inwendig ensovoorts, ensovoorts.

“As jy kougom kou en dit insluk, gaan jou derms knoop.” As ‘n kind was ek deur my ouers belet om kougom te kou of by mense te kry. Ek kan onthou dat en my Kleuterland maatjies, weens die gebrek aan kougom, die ou kougom wat so in die teer of sement buite vasgetrap was, met stokkies en takkies los gekrap het, bymekaar gedruk het, gedeel het tussen ons maats en dan gekou het en......INGESLUK het!  Daar het julle dit nou Dad en Ma en ons was nie eers eenkeer by dokter Smit hieroor nie. Natuurlik het die maatjies dit net soos ek geniet, want ook hulle derms sou kamstig knoop.
‘n Vriendin van my vertel dat wanneer hulle glo sou lê en eet, haar ma sou sê: “Sit regop, mense wat lê en eet, kry horings.” Belaglik. Kan jy jou indink, daar kon nou al menslike trofee-horings gewees het? Jy sou ander mense se horings op die swart mark kon koop en ek wil jou wed, daar sou al een of ander moetie ontwikkel wees van menslike horings vir fertiliteit. Jy sou natuurlike die windgatte hê wat een of ander horing politoer aangewend het en nou die dorp vol spog met die horings en dan sal jy nou weer die jappies kry, wat vals horings laat maak om by hul “image” te pas.  Hoe sou ‘n kroeg geveg lyk? Kan my net indink. Lyk my daar is tog sportgeesdriftiges wat gelê en eet het as kinder – Blou Bulle...
 “Jou gesig gaan so bly staan as die kerkklok lui.”; Snert! Dink net hoe baie geld die kerke kon maak deur vrouens te spaar op botox en face lifts. Al wat ‘n vrou doen is om teen 11:59 by die kerktoring te staan, haar gesig in posisie te trek met wat ook al, ‘n minuut te wag en siedaar – 12 klokslae later – die nuwer jy! En daarna gee jy ‘n mildelike donasie vir die kerk. Amper soos die ou bieghokke in die Roomse kerk. Wel, die kerke sou dalk voller wees.
Bog stories, ou vrou stories, snert stories, lieg stories, lag stories – dit maak die lewe interessant!

Krapmerk op 'n Diamant

'n Oosterse vorstrlike het eens 'n pragtige, groot, perfekte diamant besit. Dit was die trots van sy rykdom. Onder geheimsinnige  en onverklaarde omstandighede, het hierdie diamant egter beskadig. Die skade was  gekenmerk deur 'n lang, haaragtige krapmerk wat in die middel van die diamant afgeloop het.
Die koning was hartseer oor hierdie onsierlike merk.
Hy het die woord in sy koninkryk laat uitgaan dat hy 'n enorme beloning aan enigiemand sou gee wat sy diamant kan herstel.

Niemand het na vore gekom. Al die beste diamantsnyers het mislukking gevrees. Dit is toe 'n kunstenaar wat die diamant sou red met die volgende woorde:
“Die grootste fout sal sy glorie die mooiste vertoon”.  Die kunstenaar het die diamant geneem en vir ‘n paar weke in sy besit gehad. Daarop het hy teruggekom en dit aan die koning oorhandig.

Met die onthulling van die kosbare edelgesteente het die koning sy asem opgehou. Hy het gevrees dat die kunstenaar se hand  dalk gegly het en die diamant nou waardeloos was. Of dalk is hy 'n bedrieër en 'n deugniet. Stadig en versigtig het die koning die toegedraaide  diamant oopgevou om 'n blik  te kry op van sy kosbare skat. Hy het na sy asem gesnak. Die kunstenaar het die haaragtige fout ontvorm sodat dit die stam van 'n pragtige roos sou verbeeld. Waarlik, dit was mooier as ooit te vore.

Hier in Lydenstyd glo ek ook dat dit die boodskap van Jesus aan die kruis is. ‘n Simbool van skande omskep in 'n wonder van redding. Dit kan die storie van ons lewe wees. Ons sal altyd opposisie in die lewe hê. Maar deur God se genade, kan opposisie verander word tot geleentheid. Mag jy in hierdie tyd nader getrek word na Hom.

Wednesday 30 March 2011

onskeibaar deel


Suid Afrika, ek sien jou op die ent van die maand
as jy Shoprite bedrukkend, verdrukkend, bevuil, vervuild vol staan
Ek sien jou na die “pension”  en “grant ” rye in die hoofstraat gaan
Ek hoor  jou “beat” hop voor PEP Stores uit groot swart “speakers” spring
Ek sien jy’s entrepreneur om kos huis toe te bring
Ek hoor jou oor die strate van die dorp heen skree, skel, sing
Ek voel jou speel, jou lag, jou gil met lewe deur kinders laat klink
Ek ruik jou amoniak afval  agter die “taxi-rank” stink
Ek voel jou teen my druk in die Poskantoor
Op Woensdae waar jy werk in die huis, waar ek jou geselsgoed hoor
Jy’s kleurvol, klankvol, kunstig, kreatief
Suid Afrika, jy’s deel van my, dit is so -
hier waar ek liefhet, leef en glo


Reg voor Africa Bank word besigheid gemaak - 'Bank at Africa'

 Voor Pepstores en Shoprite verkoop ons dieselfde produkte

aan die anderkant...ek sien nie 'n B nie


Met die uiteindelike oopswaai van die voordeur, na jy die uitgestelde, vermydend, roepende deurklokkie probeer ignoreer het, want jy het skrams deur die venster gesien wat buite aan’t wagte is, en die kenmerklike reuk, klank en Ora van die deurbewagtende jou begroet sonder woord, dan weet jy...hier kom dit:

“Ag, ek soek net ‘n geldjie om die trein te vang na...”


Ek het al gereken dat daar êrens, iewers ‘n massiewe letter B voor of op hierdie pastorie se dak aangebring is, wat slegs ek nie kan raaksien nie. Want elke verdwaalde, verwaarloosde, “travel”-laar, boemelaar, bedelaar, swerwer, gypsy, werksoeker, broodvraer, wil altyd geld hê vir ‘n treinkaartjie om hul bestemming te bereik wat met die letter  B, begin.

Ek het al alles gehoor, Boksburg,  Brandfort, Brandvlei, Bainsvlei, Bloemfontein, Bultfontein, Bredasdorp, Balito, Belville, Boston, Bergville, Bethelehem, Bethelsdorp, Badplaas, Bethel, Baberton, Blyde Rivier, Barkley-Wes, Barkley-Oos, Britztowm, Brits, Bitterfontein, Bettiesbaai en Benoni. Altyd ‘n B! Ek belowe jou, altyd ‘n B!

Wel die laaste een wat kom klop het was so paar Sondae terug. Ja lyk my dis nogal ‘n gebeurtelike Saterdag-Sondag-ding.
Die honde het geblaf en heen en weer teen die heining gewaarsku. Ek het deur die waas van die gordyn gesien dis ‘n ouer man, geklee in ‘n langbroek, geruite sportbaadjie, gedas en ge-1970’s-hoed, wat elke dan en wan voor die hekkie verby paradeer. Later agter gekom hy paai die honde om so die voordeur te bereik. Die klokkie het sy teikendoel aangekondig. Ek het deur toe gestap, oopgemaak en geen woord gespraak nie. Net die glurende staar. Met die inwaai van die lugstroom het die kennelike reuke en geure van muf sweet, spirits en vele meer my begroet. My besluit was dat hy eerste die intree rede sal lewer. Met telepatiese kommunikasie het dit ook spoedig so gebeur.

“Dag seun, is jou pappie tuis?”
“Nee.”
“O, want iemand het gesê ek sal met jou pappie kan praat, hy is mos die dominee?”
Ek het weer geantwoord: “Nee, my pa is nie hier nie.”
Hy: “Ek wou ‘n paar goedjies met hom bespreek. My dogter is nou vir die derde jaar in standerd 8 en ons het nou nie genog geld om haar te laat klaar leer nie en dinge gaan swaar.”
“O”: beaamend reageer ek. “Wel ons beleid in hierdie huis is, dat ons vir niemand geld gee nie, maar ek sal gaan kyk wat daar te ete of te drinke is.”
“Nee wat, honger is ek nou glad nie ou seun”: antwoord hy oortuigend.
Ek, lewensdom, sou dink dat enige kos verwelkom sou word as dit swaar gaan. Duidelik verkeerd. Nogtans keer ek in kombuis toe, vat ‘n pak “chelsea-buns” en ‘n bottel yskaswater en gee dit vir die man.

“Dankie.         Die eintlike rede hoekom ek hier is, is om vir jou pappie die slegte tyding te bring van onse dominee. Hy is mos so skielik oorlede.”
Ek reageer nie, steeds die blikkende gluur. Ek laat die stilte toe om hom ruimte te gee vir sy woorde.
“Ja....so skielik. Die een dag daar, die ander dag weg.   (stilte)    Ek weet nie of julle die tyding gekry het nie,  (stilte)   maar ek het gedink ek kom deel net die tyding met julle.”
Ek vra toe maar: “So watter dominee is dit?”
“Dis die dominee van Knysna, wat ons bedien het in die buitewyke.”

Nou dink ek by myself...mmmm. Mis ek iets in die verhaal? Want 1. Knysna is seker padlang 500km hiervandaan. 2. My pa is nie ‘n dominee nie, hy woon nie hier nie,  ek is die dominee en ek woon hier. 3. Ek ken nie die oorledene nie, daarom weet ek nie hoekom ek sou belangstel in hierdie spesifieke tyding nie. 4. Dis Sondagmiddag 3 uur se kant en ek ken ook nie die boodskapper met die kind in standerd 8 triplikaat nie.
En dit is toe dat dit kom...

“Daarom het ek nou net ‘n geldjie kom vra vir die trein na  Blanko....dis nou om by die begrafnis te kom.”

Yskaswater en “chelsea-buns”, geen geld vir ‘n “train ticket” voor ek nie daai B met my eie oë sien nie!

lewens-toi-toi

Sondag sit dié gesin en tee drink, gesels en kuier. Ma sê: “Onthou julle die keer op die plaas toe die volk so bly was dat die winkel op Waterford (‘n klein naby geleë spookdorpie)  afgebrand het?
“Ja”; maar ons kan nie onthou hoekom die vreugde vure gebrand het in die harte van die plaasvolk nie?
 Ma vertel: “Ek’t hulle mos gevra hoe kan hulle bly wees as die plek waar hulle kos en voorrade koop, dan nou tot niet is? Toe vertel hulle dat hulle so bly is omdat die Skuldboek ook uitgebrand het en niemand nou sal onthou of kan bewys dat hulle skuld op die boek gehad het nie!”
Terwyl ek lekker lag en my ma nog tee skink, sien ek dat sy nog steeds na al die jare nie kan indink hoe mense so kan optree of reageer oor so ‘n slegte voorval waar die winkel afgebrand het nie.
Ek het net by myself gedink – twee dinge:
1. Wat ‘n wonderlike beeld vir genade. In en deur Christus is my skuldboek ook verbrand, weg, “gone”. Laat ek bly wees oor die lewe!
2. Mense se uitkyk en perspektiewe verskil uiteenlopend ten opsigte van die lewe. Hoe wonderlik kreatief skep die Here die mens.

Monday 21 March 2011

Mistaking Overtaking

Sit vanmiddag en praat oor die goeie mense van die kontrei. Dink toe aan iemand wat op ‘n keer die staaltjie vertel van bekendes in die omgewing wat soos volg lui:
Die omie wat maar versigtig was vir die antie, kom eendag van werk af en stop by vriende om in te loer. Siende dat dit nog vroegmiddag was, word hy ook deur die kamerade genooi om ‘n koue te klink – welkom was dit verseker na die lang dag se arbeid.
 “Maar”; stel die oom sy vriende in kennis, hy moet by die huis kom, want sy vrou trek deesdae kwaai baadjie aan oor sy laat kommery. Dis reg so, bevestig die manskappe instemmend – net nog so een dop, dan kan hy gaan.
So gemaak.
Die een dop het toe meer doppe geword en tyd is niemand se baas nie. Om die minste te sê wa man en muis verbaas oor die son wat so vinnig gesak het. Die oom wat net vinnig sou inloer besluit dat dit regtig nou tyd geraak het om in die pad te val. Een van die mede-kamerade besluit om sommer ‘n ‘lift’ te vat op die oom se pad huis toe.
Bekommerd oor sy vrou wat dalk al tuis kan wees, sit die oom toe redelik voet in die hoek om die huis te haal. Sy vrou sal om 8uur by die huis wees en op sy horlosie is dit net-net voor 8uur. Maar hy is nie bekommerd nie, want hy is nogal naby aan die huis.
 Nie ver van die huis nie, merk die saamry vriend op dat die oom se vrou sommer hier vlak voor hulle in die pad ry met haar karretjie – natuurlik oppad huis toe. Om nie twee keer te dink nie, raai die vriend die oom aan om die antie sommer verby te steek en dan voor haar by die huis te kom - kyk dan het sy mos geen rede tot klag nie - die oom is dus voor haar tuis.
So gesê, so gedaan. Die oom het daai petrol plat getrap en die antie verby gesteek– maar wat wou! Brandewyn het nie brieke nie en die voggies het klaarblyklik sy tol ge-eis. Want die antie het toe nooit voor hulle in die pad gery nie, maar  haar motor was ‘veilig’ geparkeer in die erf – en die oom en sy navigeerder se ruimtelike oriëntasie was effe uit. Nooit besef dat hulle toe alreeds in hulle eie erf ingejaag het nie. Met sy voet swaar op die petrolpedaal en die “overtaking”, is die oom en sy vriend toe dwarsdeur die garage-deur!!!

...die antie was min "impressed"

Saturday 19 March 2011

Eggenote van wyle President Paul Kruger

Sy was die vorstelike eggenote van wyle President Paul Kruger. Gebore as Gesina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis ‎op die vyfde dag van Mei 1831; so bevestig goeie bronne die feite.  Bekend as ‘n dame wat haar medemens bygestaan het,  wat bykans deurgaans in swart geklee was en gasvryheid getoon het waar sy kon. Gesina Kruger is lank nie dood nie, sy woon steeds in Naesteadstraat, Cradock – ‘n gesiene dame met ‘n fyn aanvoeling vir die lewe, in swart geklee soos van ouds, gasvryheid soos op min ander plekke te vind, ‘n kinderhart wat soms tjank wanneer sy nie in haar moeder se klerekas kan inklim om warm en beskut daar te lê nie. Haar woonbroer en -suster heet Rebekka en Klein-Jan, haar mens pa en ma is Pieter en Carien Kruger. Stap af in Naestedstraat en wanneer jy by die Karoohuis kom, met die groen-sonbottels bo die voordeur en die hekkie wat enkelhoogte is, gaan gerus in en lui die string klokkies… haar edele Mev. Gesina Swart Worshond Kruger sal jou hartlik begroet en ontvang met ‘n blaf in die stem en ‘n swaai in die stert! 


(Geskryf 8 Oktober 2009 vir my vriend en vriendin, Pieter en Carien Kruger, en hul oogappel-worshond, Gesina Kruger.)

al sak die laaste lig

18 Augustus 2009 : Vanoggend toe ek deur my 'notas' op my foon gaan, ontdek ek die kort gedig wat ek een aand langs die see getik het - iemand wat verlang na liefde in hul lewe:



Soos die boemelaar met die bekfluit, hier langs my by die see,
sou ek nes hy wat wou gee;
want al is die sekelmaan vanaand hoe mooi, 
die skuite wat hul liggies gooi,
branders wat vou teen die kant –
Is daar ‘n verlange verder en langer as die see, wat mens se hart verbrand.
Dis die ding wat sê, 
dat jou hart soms meer wil hê
as pizza en ‘n sterri-stumpie, ‘n jersey of ‘n dak…
dis harte wat mekaar bly soek, selfs tot die laaste lewenslig loop sak

InderHaas


Wanneer jy in die geselskap van dominees, pastore, priester, prekers en priesterlikes kom, dan kan ek jou wed; jy sal lag. Een of ander tyd kom daar ‘n snaakse storie uit.
Ek dink nou aan die verhaal van die dominee en sy gesin wat langs ‘n betrokke goeie ou dame en haar man gewoon het. Kom ons noem hulle Grieta en Gert Geyser.
Wel, die Geysers was altyd pynlik netjies en erg besorgd oor hul tuin en troeteldiere. So was daar hoenders, ‘n troetel haas en ‘n kat of twee deel van die Geyser kroos op die werf.
Die pastorie gesin langs die Geysers , het weer op hul beurt ‘n paar kinders op skool en Jacky, die Jack Russel. Ongelukkig het Jacky die geneigdheid gehad om deur te kruip na die Geysers en dan amok te maak. Dit sou wissel van gate grou tot die hoeders te jaag. Naaste liefde was dus net deur genade behou tussen die bure.
Op ‘n gewone dag soos enige ander, kom die troetel haas van die Geysers tot sterwe. Met goed bedoeldheid, het tant Grieta die hans haas in ‘n skoenboksie gesit en in die tuin begrawe.
Salig onbewus van die dood langsaan het die pastorie hulle gewone gang gegaan. Die betrokke nag na die haas se dood, was Jacky op sy pos. Soos gewoonlik het hy deur gekruip na die Geysers, die nuwe vars grondkol gesien, beruik, bekrap en vir haas uit sy gat, uit sy boks gehaal en heel laas voor die pastorie se agterdeur gelos.
Die volgende oggende nog voor die dag se breek, het Pastorie-ma die agterdeur oopgemaak om wasgoed uit te hang. Met die uitstap strompel sy toe oor haaspastei, skrik haar vrek en skree die res van die huishouding wakker.
Chaos!
Want volgens die pastorie inwoners, dink hulle dat Jacky die haas doodgebyt het. Wat nou?
Ma beraam vinnig ‘n plan om die vrede wat te redde is, te red.
Die kinders word opgekommandeer om sjampoe en warm water te kry – die haas word nou gewas. Gewas is die haas, onder die haardroër, mooi suiwer skoon, gepoeier, bykans soos nuut.
Nou stil-stil word die kinders gestuur om oor die agter heining te klim en die haas weer in sy hokkie te gaan sit. 
So gesê, so gedaan. Slaak van verligting – die plan het sukses.
Tot laat die agtermiddag dat tant Grieta, die voordeurklokkie lui en met vreemdheid en ongeloof ‘n bykans verstommende verhaal by die pastorie kom getuig.
Sy vertel dat die troetelhaas gister seker maar van ouderdom dood is. Sy het die haas begrawe in ‘n skoenboks, maar toe sy vanmiddag by die haas se hokkie verby stap, toe sien sy die haas daar sit.
Dis asof die haas uit die dood opgestaan het – sy graf is leeg en hy is silwer skoon terug in sy hokkie! Merkwaardig – Wonderwerk!
Die heilige gesin het vreemd, dog stemmend geluister, geknik en later toe tant  Grieta Geyser weg is gehik en gesnik soos hulle lag.

Wednesday 16 March 2011

Arm en Eva

Laat middag ry ek terug na die dorp toe, was uit op plaasbesoeke. Die Karoo so groen en mooi soos ek my voorstel dit dalk in Skotland of Ierland moet lyk. Die radio is af, ek hou van stilte. Stilte laat my dink en myself vind, in stilte sien en hoor ek die influistering en dinge van ons Here. Terwyl ek ry, dink ek aan almal wat in die omgewing op die plase woon en werk en leef en rus. Soos ek ry, bid ek ook vir goedheid, vrede en vrugbaarheid.  So dink ek onder andere aan van die plaasonderwyseresse wat ek ken en skielik onthou ek die verhaal wat die een juffrou vertel het in verband met Adam en Eva.
Klaarblyklik het die betrokke juffrou een oggend aan haar plaaskoolkindertjies die verhaal vertel van Adam en Eva, die sondeval, hoedat die Here vir Adam en Eva uit die paradys gedryf het en hulle daarna hard moes werk om ‘n bestaan te maak.
Juffrou se volgende opdrag aan die kinders was, om ‘n prent te teken dienooreenkomstig die verhaal.
Met die merk van die boeke sien sy natuurlik al die verskeie kinderskilderye, die een se paradys is mooier as die ander een sin. Adam en Eva wat agter bosse wegkruip, ander Adam en Eva’s met blare, Adams wat hard werk, die Here wat staan en roep en so meer.

Tog was daar een spesifieke skets wat sy nie lekker begryp het nie. Die skets wat in die Bybelklasboek was, het ‘n lang slap motorkar met ‘n lang slap man agter die stuurwiel gehad, wat effens met sy arm en elmboog rustend by die venster uithang het. 
Duidelik was die juffrou nie beïndruk nie, siende dat die kind nie geluister het na die opdrag nie en weer sy eie kop gevolg het om net ‘n prent te staan en teken na sy smaak.
Die juffrou roep toe die kind tafel toe en vra wat hy geteken het? Hy moet asseblief vir haar verduidelik wat in die prent aangaan?
Die kind verduidelik toe heel eenvoudig, dat die bestuurder van die lang slap kar die Here is en dat Adam en Eva agterin sit, “...want djuffrou, die Djirre dryf hulle mos yt die paradysss  yt.”

Daar het jy dit...of die Here jou uitdryf, uitjaag, uitskop, uitry – uit sal jy uit!


Monday 14 March 2011

ma en 'n bazaar


Dit is 'n week later en my Ma gaan weer na 'n bazaar toe.

Sy leef vir ‘n bazaar, ek glo dis geneties oorerflik, want soos sy, ly (ja ly met ’n lang ‘y’) ek ook aan die selfde genetiese wanpraktyk – kan nie verby ‘n sosatie, bazaarpoeding of gemmerbierbottel stap nie! Verlede naweek oppad terug van die inkopie-sentrum na ons Jeffreysbaai-huis,  bemerk my ma tot haar eie skok en verbasing die banier met ‘BAZAAR’ voor die Metodiste kerkie op en kondig hippertensioneel aan: “Ek het die bazaar vergeet!!!”
Wel, soos ek oor bazaarpoeding is, so is Susan Loraine Juta van Wyk oor ‘n tombola-tafel by ‘n bazaar!  Die einste bazaar wat nog so 5 minute terug vergete was, is glo bekend vir sy noemenswaardige tombola-tafel. “Nerens kry jy hierdie oulike goed nie.”
So het ek onder andere verlede jaar ’n gehekelde tafeldoek persent gekry vanaf die immer gewilde tombola-tafel... en die res van die familie het ook goeie oeste ontvang. Die tee-tand-bevlekte ou antietjies glimlag natuurlik van oor tot oor, oor die vlytige koopster – my moeder -  ‘n  wen-wen situasie vir beide partye ongeag die resessie!
Skaars aangeland by die huis van die winkelsentrums kan die pakkies nie gou genoeg hul plek in die huis kry nie, want die bevel is klaar uitgevaardig; “klim ons gaan bazaar toe.”
Met die verby ry slag het ons gesien dat daar nog redelik baie motors was. Nou ja, met spoed kom ons oorkant die kerkie tot stilstand, missie:  tombola-tafel!
“Vreemd” : merk ma op, “daar is nie die jaar ‘n tent buite opgeslaan nie.” Maar elk geval, daar is baie mense, so kan ons dit skrams deur die kerkie se vensters sien en iemand (seker die dominee) praat nogal duidelik hard. Dit is in die hardloop na die ingang van die gebou, dat my ma vassteek en vir die een bediende wat uitgestrek lê op die gras vra: “Is hier nog bazaarpoedieng?” Toe die swart vrou antwoord: “Nee-a miesies, dis die baagraffanis, dié!”
Dis op dieselfde oomblik dat die orreltjie die binneruim van die metodiste kerkie vul met Amazing grace. Daar kruip moeder en seun van die lag op die grasperk oor die jolige sedigheid.  Kan jy jou indink: tombola-tafel en bazaarpoeding op ‘n kis!!! Ma het toe al die tyd die datum verkeerdelik gelees -  die bazaar is eers 'n week later!

Duiselingwekkend Gekwalifiseerd Gearriveer - Belaglik

Inskrywing -  6:04pm 3 Desember, 2009

Carien kom sit vanoggend en kuier. Vroeë krismiskoek en filter koffie… sy vertel my dié storie uit Parys van die Vrystaat.
Haar ma, ene tannie Mollie Basson (in haar goeie tagtigs), woon daar in ‘n aftreeoord. So gee tant Mollie se yskas gister die gees en die plaaslike yskas-repereerder kom om bystand te bied. Hier volg sy lewensverhaal amusante interessante:
Sy naam ontbreek ons gelukkig, maar volgens sy reputasie sal almal weet wie hy is.
Hy studeer by Wits en ontvang sy kwalifikasies in 1994, die jaar van die oorname. 52 vakke almal Cum Laude, werk as landskap-ingenieur , lê golflandgoedere uit waarvan een by Knysna is, die ander by Nelspruit, ...”maar daar’s nie geld daarin nie.” Hy het ook alle water-spuit fonteine by Sun City opgerig en uitgelê, werk saam met Keith Kirsten (...”maar Antie, daais nou ‘n ongeskikte man”).
So ontdek hy daar is nie geld in landskap-argitektuur nie, doen nog ‘n paar kursusse sodat hy nou uiteindelik 67 kwalifikasies agter sy naam het, natuurlik die res ook ge-Cum. Vanuit hierdie kwalifikasies kan hy onbeperkte werke doen en in enige pos staan… “maar yskaste is eintlik my ding”!
Sy vrou, Amerikaans, was dokter by Tygerberg, reeds dood (dalk die las van al sy kwalifikasies wat haar hart lam gemaak het).
Sy hond – ‘n Russiese albino foksterriër, wat ‘n kilogram gekerfde biltong kry wanneer hy verjaar en ‘n skaaptongetjie met Kersfees.
Hy en sy ma huur op die oomblik ‘n een slaapkamer huisie, maar hy slaap sommer op die divantjie in die sitkamer. Daar staan 39 yskaste waaraan hy tans werk. Sy ma bêre die melk in enige yskas wat daar staan. (Kan jy dink hoe sy soek na die melk die volgende more! en hoeveel is reeds vrot van die vorige weke!)
Hy het ‘n plot vir sy ma gekoop in die spog woonbuurt van Vredefort, die verkoper wou R30 000 hê, ...”maar ag Antie, toe kry ek die verkoper jammer en gee hom sommer R50 000.”
“Het Antie ‘n haardroër? Want ek wil die yskas blaas sodat die gas kan afsak… dissie ommie ys te ‘defrost’ nie, dis laat die gas sal afsak.”
So is mnr. X-kas daar weg met tant Mollie se yskas. Hy kon nie weer die yskas gisteraand aflewer nie, want sy bakkie se ‘bearings’ het vasgeslaan.
Tan' Mollie sê altyd; “Moenie dink omdat ek oud is, eks dom nie.”

Sunday 13 March 2011

...sommer vir almal wat soms so voel


gevoel is geen praat-taal nie,
al is sy klank deels  lag, deels sug, ‘n wag,
‘n snotbetraande huil,
want skoonskeer, “dress” en tof,
oppervlakkig-diep dinge praat is snert, is stof.
Dis net vir kyk en lyk,
hetsy arm, midman, ryk.

Maar gevoel is steeds geen praat taal nie,
ek kry nie sy woord gesê,
al weet ek soms ...en soms presies,
wat dié hart wil hê
al klop en skop dit als verwoed,
al skree dit hard en luid... 
geen klank in woord kom klinkend heeltemal verbatim uit

Tuesday 8 March 2011

die Holden bakkie en my Pa

Hier in die dorp loop ‘n deurleefde groen Holden-bakkie. Lemmetjie- advokado- budgypoepgroen. Kennelik pragtig! Soms die draer van mense, ander kere weer sakkies vol lemoene wat by die oop agterklap en kappie uitsteek. Bo op die dak van die kappie en voor op die enjinkap neffens die ruitveërs  pryk dit – geel bolle op ‘n groen skinkbord. ‘n Mooie glimlag. Geen lemoen of mens val af nie – die drywer (iemand het eenkeer gesê; Net ‘n drol dryf in water) dryf so versigtig en knap dat selfs die oorle Queen Mother met eer op die enjinkap tussen die twee sykant spieëltjies sou kon vashou en geeltand wys.
Wanneer ek die mooi gesig in J.A. Calata-straat sien, dan sien ek die blou Holden uit my kinderdae.
Dit sal ‘n Saterdagoggend gewees het dat ons weer die groot dromme, wat reeds op die Holden se bak regop staan, vol water sou maak. Die rede; om water af te ry Ou Lande toe vir die vee. Die eerste slagting was by die eerste plaashek dié betrokke dag. Nou hoe dit werk is as volg; my Pa en oupa Ben sou voor in die Holdenbakkie sit en ek en Riaan sou dan agterop staan, ietwat teen die venster – twee kleinerige seuntjies, seker so 7jaar en 4jaar oud.
By die eerste plaashek gekom, was ek sekerlik te lui of my brein dalk te innoverend – soveel so dat ek nie soos ons geleer is, die plaashek optel en oopstoot nie, maar eerder die plaashek oopknip en probeer oopgooi. Groot fout! ‘n Plaashek wil nie gegooi wees nie, hy gooi terug. En so was dit nie anders die dag nie – daai plaashek slat my vol op die bek! Bolip bebloed en stukkend, snot-snot - bloedbekkie en vol trane klim ek weer op die bakkie nadat Dad vermaan en getroos het. Ek besef nou hoe baie my pa se geduld tog die toetse deurstaan het. Wel so kom ons uiteindelik uit waar ons wil wees, maar die paadjie is maar redelik skuins en wipperig. En sonder dat iemand dit verwag het, in ‘n draai, besluit die vrag vol waterdromme om vorentoe te val, bo-op ons twee boeties. Wat ‘n skok – op ‘n wonderbaarlike wyse kom ek uit tussen die dromme, maar Riaan wat nog maar ‘n klein wilde blondekop seuntjie was, word vasgedruk deur honderde liters vol yster dromme met water. Bloed teen die ruit en ek wat skree dat my pa iets moet doen. Wonderlik dat mens instinktief roep in nood tot die wat jy glo sal kan help – gewoonlik in die vorm van ‘n Pa.
Ek onthou dit asof dit nou gebeur, Dad wat terwyl die ou blou Holden teen ‘n baie lae spoed in die 2 spoor paadjie ry, uitspring – my oplig tot skuins teen die dak van die Holden, homself in wurg tussen die dromme, dit met sy rug terug stoot en vir Riaan uitruk. Intussen is oupa Ben, in sy tagtigs, salig onbewus van wat gebeur, hy rook sy pyp en staar net die veld in. Die Holden het dood geruk. Riaan gered, tande deur die lip, die voorkop en lyfie stukkend en seer.
Verflenter en vuil het ons die dag weer terug gekom by die plaas opstal– gelap en gepleister  om maar net weer later vredevol te speel op die werf.
Wel as ek die groen Holden in die dorp sien, dan sien ek die mense daarin, die lemoenesakkies en die welbedrewene, maar ek sien ook die Pa en sy twee seuntjies en ‘n storie vol van lewe verder aan.

sien en sien - luister en luister - lewe en lewe


Die kantoor telefoon lui gisteroggend  en ek antwoord. Die stem aan die anderkant van die lyn: “Hallo ek is Elsa van Tzaneen. Ek weet ek vra nou iets vreemd, maar is ek nou by die kerk wat die twee orrels het?”
Ek antwoord bevestigend.
Na ‘n kort bekendstelling per telefoon gaan sy voort:
“Ons toer so bietjie deur die Oos Kaap en ek wonder of daar dalk ‘n moontlikheid is dat ek op die orrels mag speel?”

Dit is altyd lekker om besoekers by ons te kry, so wat ‘n lekkerte om haar te nooi om te kom kuier. Die vrou noem dat ek geduld moet hê en dat sy sukkelend speel. Nou ja, wat om te verwag die weet ek nie. Ons maak ‘n afspraak vir min of meer etenstyd  vandag. Sy sal bel as hulle voor die kerk stop.
Sy bel 12:40, maar ek is nog 25km buite die dorp op plaasbesoeke. Sy vra; sal ek jaag? Ek sê nee, ek vlieg alreeds ek gaan nie nou stadiger vlieg nie. Ek kry haar en haar man voor die kerk onder bome met hul swaar-toer-belaaide Landrover en sleepwa. Dick stel homself voor en uit die anderkant van die Landrover roepgroet Elsa: “Hallo”.
Ek stap om te groet en sy wys my daarop dat sy bykans geen sig het nie en ek haar asb. moet help om tot by die ingang van die kerk te kom. Ingehaak aan die arm met ‘n “pasop” hier en daar, maak ons dit tot by die orrel.
Elsa vertel in kort dat sy deur breinbloeding blind geraak het en dat haar een oor ook aangetas is.
Ek help haar sit voor die orrel en registreer die instrument.
Sy het ‘n boekie waarin met ‘n gekronkelde skrif kernagtige woorde geskryf is en vra my om te lees wat daar geskrywe staan. Dit is haar notas.
Sy begin speel en woorde ontbreek en ontgaan my. Wow wow wow. Soveel so dat ek eers by die tweede improvisasie wat sy doen, self registreer wat sy speel:  Hoe glansryk blink die Môrester.

Elsa speel my stil.

Improvisasie soos die meesters oor die grootwaters leepoog sal begeer om te kan doen! Gesig- en deels gehoorgestremd, maak sy en die orrel die mooiste musiek. Ek sien haar vingers beweeg en besef, maar dit is nie hoe ‘mens’ geleer word om te speel nie.
En daar tref die les my weer: Die Here vra nie hoe ek lyk, wie ek is en waar ek vandaan kom nie – Hy is kreatief Almagtig.
Om ‘n doel te bereik het meer as net een weg te volg. En toe sy Hoe glansryk blink die Môrester speel, besef ek dat die Môrester ook haar lewe bereik het en ondanks blindheid, daar ‘n lig wat energie is, haar bekragtig om te kan skep soos sy skep. En dat die Lig my asem steeds keer op keer kan laat wegslaan van verbasing. 

Wat ‘n voorreg om vir Elsa de Bruyn van Tzaneen te kon ontmoet.Ek besef, terwyl sy speel, dat musiek iets beskryf van hoe gevoel klink. Dit was Ludwig von Beethoven wat glo eens gesê het: Musik ist der Vermittler zwischen der geistigen und der sinnlichen Leben. Of vertaal: Musiek is die tussenganger tussen die geestelike en die sensuele tasbare lewe.

O Môrester wat ons verlig, voor wie die nag eens sal moet swig, o verlig my, leer my, rig my, Vors van ere! Uit: Liedboek van die Kerk 372:3

Sunday 6 March 2011

As ons almal blou mussies dra...que sera sera

Mense bly fassinerend
2 weke terug 14:38 skree die telefoon die Sabbatsmiddag uit sy hibbernering.
“Hallo, dis Serah.”
Ek eggo verstotterend: “Hallo Serah”, effens geskok oor die tyd  op ‘n Sondagmiddag. Ek onder ‘n duidelike wanindruk dat meeste goeie mense in die Karoo dorp op die tydstip rustend verkeerd.
“Dominee, ek wil net hoor wat is julle opinie oor die beoogde standbeeld in Swede? (stilte) Ek meen nou oor die een wat hulle wil opsit wat ‘n afbeelding van Jesus is?”
Ek vra meer duidelikheid oor die aangeroerde saak en sy antwoord: (Ek het dit goed gedink om nie alles hier te probeer neerpen nie, maar bondig saam te vat – siende dat die gesprek effens oorbodig lank was.)
Serah: “Jy sien ek meen nou dat julle as predikante iets moet doen omtrent die saak, want in die Bybel sê die Here duidelik dat daar geen afbeelding gemaak mag word nie. En nou wil die mense ‘n beeld van Jesus opsit. Ek voel dat dit nie reg is nie en dat mense nou voor die beeld gaan buig en nie die Here raaksien nie. Dit is nie al nie, in Suid Amerika in Rio de Janeiro, gaan hulle ‘n groot standbeeld ook van Jesus opsit. Kan jy nou dink as die goed nou daar gaan staan wat sal alles gebeur?”

Ek is eerlik, op ‘n Sondagmiddag net voor 3, kan ek nie aan een ding dink wat  “alles sal gebeur” nie. Maar siende dat ek gebel is vir raad of ‘n opinie of om ‘n oor te wees – “hum en haa” ek so met fatiese kommunikasie. Nadat ek seker 5 keer die vraag moes hoor, hoe ek nou die saak gaan aanspreek? – net ter herinnering – ek is ‘n predikant werksaam in die Karoo, ‘n entjie weg van Swede of Rio! – toe antwoord ek.

“Serah, die beeld in Rio staan al vir etlike jare en die kerk denominasie daar teenwoordigend is die Rooms Katolieke Kerk. 
Die NG Kerk, die AGS, die Methodiste, die Anglikane of geen ander kerk hoef hulle te bekommer oor die werksaamhede van die Rooms Katolieke Kerk nie – die Here sal hom daaroor bekommer en dit uitsorteer as dit nodig is."

Serah: “O ja, jy sien ek het nou maar net gehoor van die saak by ‘n vriendin. Sy't  'n artikel in die verband gelees het.”

Ek vra toe: “Serah, het jy foto’s of skilderye in die huis?”
‘Ja sy het en sy brei ook uit daaroor.’
 “Enige aandenkings of mooi goedjies soos ornamente?"
Ek laat haar klaar vertel.
“Wel dit is ook afbeeldings, maar jy sien dit mos nie asof dit die Here self is nie? Kom ons sien eerder die Here raak in die wonderlike handewerke van die mense waarvoor die Here die kreatiwiteit gegee het om te kan skep en mooi goed te maak. En kom ons bid eerder saam dat wie ook al die mooie handewerke sien, die Gewer daarvan sal raaksien. Ek hoop regtig jy het ‘n lekker dag. Die Sondagmiddag lê nog voor jou en ek dink dit is die ideale geleentheid om weer al daai mooi goed in jou huis af te stof. En wanneer jy by elke foto of ornament kom, sommer te bid vir die een wat daarop verskyn of wat dit vir jou gegee het. Vra die Here dat hulle hom sal raaksien en nie die mens gemaakte sake nie.”

Sy was stil....en dit was ook die einde van die gesprek; Que Serah Sera, what ever will be will be.