Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Tuesday 8 March 2011

die Holden bakkie en my Pa

Hier in die dorp loop ‘n deurleefde groen Holden-bakkie. Lemmetjie- advokado- budgypoepgroen. Kennelik pragtig! Soms die draer van mense, ander kere weer sakkies vol lemoene wat by die oop agterklap en kappie uitsteek. Bo op die dak van die kappie en voor op die enjinkap neffens die ruitveërs  pryk dit – geel bolle op ‘n groen skinkbord. ‘n Mooie glimlag. Geen lemoen of mens val af nie – die drywer (iemand het eenkeer gesê; Net ‘n drol dryf in water) dryf so versigtig en knap dat selfs die oorle Queen Mother met eer op die enjinkap tussen die twee sykant spieëltjies sou kon vashou en geeltand wys.
Wanneer ek die mooi gesig in J.A. Calata-straat sien, dan sien ek die blou Holden uit my kinderdae.
Dit sal ‘n Saterdagoggend gewees het dat ons weer die groot dromme, wat reeds op die Holden se bak regop staan, vol water sou maak. Die rede; om water af te ry Ou Lande toe vir die vee. Die eerste slagting was by die eerste plaashek dié betrokke dag. Nou hoe dit werk is as volg; my Pa en oupa Ben sou voor in die Holdenbakkie sit en ek en Riaan sou dan agterop staan, ietwat teen die venster – twee kleinerige seuntjies, seker so 7jaar en 4jaar oud.
By die eerste plaashek gekom, was ek sekerlik te lui of my brein dalk te innoverend – soveel so dat ek nie soos ons geleer is, die plaashek optel en oopstoot nie, maar eerder die plaashek oopknip en probeer oopgooi. Groot fout! ‘n Plaashek wil nie gegooi wees nie, hy gooi terug. En so was dit nie anders die dag nie – daai plaashek slat my vol op die bek! Bolip bebloed en stukkend, snot-snot - bloedbekkie en vol trane klim ek weer op die bakkie nadat Dad vermaan en getroos het. Ek besef nou hoe baie my pa se geduld tog die toetse deurstaan het. Wel so kom ons uiteindelik uit waar ons wil wees, maar die paadjie is maar redelik skuins en wipperig. En sonder dat iemand dit verwag het, in ‘n draai, besluit die vrag vol waterdromme om vorentoe te val, bo-op ons twee boeties. Wat ‘n skok – op ‘n wonderbaarlike wyse kom ek uit tussen die dromme, maar Riaan wat nog maar ‘n klein wilde blondekop seuntjie was, word vasgedruk deur honderde liters vol yster dromme met water. Bloed teen die ruit en ek wat skree dat my pa iets moet doen. Wonderlik dat mens instinktief roep in nood tot die wat jy glo sal kan help – gewoonlik in die vorm van ‘n Pa.
Ek onthou dit asof dit nou gebeur, Dad wat terwyl die ou blou Holden teen ‘n baie lae spoed in die 2 spoor paadjie ry, uitspring – my oplig tot skuins teen die dak van die Holden, homself in wurg tussen die dromme, dit met sy rug terug stoot en vir Riaan uitruk. Intussen is oupa Ben, in sy tagtigs, salig onbewus van wat gebeur, hy rook sy pyp en staar net die veld in. Die Holden het dood geruk. Riaan gered, tande deur die lip, die voorkop en lyfie stukkend en seer.
Verflenter en vuil het ons die dag weer terug gekom by die plaas opstal– gelap en gepleister  om maar net weer later vredevol te speel op die werf.
Wel as ek die groen Holden in die dorp sien, dan sien ek die mense daarin, die lemoenesakkies en die welbedrewene, maar ek sien ook die Pa en sy twee seuntjies en ‘n storie vol van lewe verder aan.

No comments: