Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Thursday 3 March 2011

Biljette, Gooiers ...een en dieselfde ding

So loop ek weer vroeër vanoggend oor en verby klomp hopies en marmer kerkers teen 9 grade Celsius - ‘n sneeuwind wat deur jou snyDit gebeur alles in die plaaslike laaste aftree-oord van baie vorige dorpsinwoners. En ek dink my ‘n drie kwart uur terug op die preekstoel in. Een van die vele dinge wat maak dat ek gouer hemel toe verlang en soms vinniger verlos wil word van die aarde, is die non-transendensie van begrafnisse.

Vanoggend sin was nie veel anders as voriges nie .Ek moet kwalifiseer, alle begrafnisse of troosdienste is nie noodwendig stereotiep en sleg nie.
Maar vanoggend sin was een van daai waar niemand regtig weet wie die dooie is of aan watter denominasie die een behoort het nie, want die helfte dra oop hemde en kettings tussen grys borshare, die ander is toegezip tot by die kuiltjie en dan is daar die hoedbrigade – met netjiese kantwerk de “works”. En kyk, ek kyk ook nie neer op ander denominasies nie, maar vandag het ons van “Roman Catha-holic” tot Ou Apostels in die 1960 NG hieppie – kerkgebou gehad.

Elk geval, waar was ek? O, ja by die pamflette met Sneeuwitjie-wit St. Joseph lelies en ‘n art deco kruis op die blou agtergrond. Die variante is gewoonlik ook een of ander  geneties gemanipuleerde wit gekweekte duif wat op die voorblad wuif of die immergewilde....Twee rye Voetspore. Oe, so hartroerend diep.

Maar ondanks is dit nie net die innoverende buite bladjie wat my  grensloos irriteer nie, maar die inskripsie op dié se rugkant. En wat daarby gevoeg moet word is dat baie begrafnisondernemers nie die gediggie in rym-orde druk nie. Jy wil graag lees, maar iets hou jou terug! Jy’t geen idee watter woorde is beklemtoon en watter nie, want leestekens en rymspasiëring ontbreek... en as jy lees besef  jy, daar is ‘n foutjie.
Dit bring mee dat die prediker wat dit moet voordra soos ‘n graad R-keentjie klink met ‘n redelike bollie in sy broekie. Hy wil aangaan, maar iets briek hom!

Hier is ‘n oorbekende voorbeeld van wat in die biljette verskyn:

God het eens op ‘n dag ‘n klein roosknoppie gekweek die mooiste kleure en geure die roosknoppie het altyd uitgestaan in sy tuin die Groot Tuinier het eendag in die tuin gewandel en besluit om die mooiste ou roosknoppie vir hom te pluk mag jy die mooiste geure ook in die hemel hê ons gun jou dit my affodil.

Wie wil met  ‘n afgeplukte roosknop vergelyk word? Daar is dorings aan. Ek lees nêrens dat ons rose was of gaan wees wat êrens in ‘n moerse blompot op ‘n tafel in die hemel gaan pryk nie! En soos ‘n vriendin van my sê; dis nie regtig ‘n goeie troos vir die wat agter bly nie – hulle is dan beslis nie die mooiste blom in die tuin gewees nie, want hoekom word ons nie gepluk nie?
En wat my eintlik so irriteer is die limeriek-agtigheid van die inskripsies binne-in die biljette.

Dit ‘klink’ altyd iets soos volg (net as voorbeeld):

Ons dank aan ons Moeder, suster en ouma, Magrieta Susarah van As,
 vol liefde, maar dalk moes sy meer gereeld onder haar arms was.
Mammie ondanks jou stank,
gaan ons jou mis en moet ons jou nou op die begrafnisbriefie vir ietsie bedank,
want ons betaal immers ons gatte af vir hierdie biljet,
jy’t altyd die ou skaap tjoppies verkies met die randjie vet.
Ai, mammie – dit was soveel pret.
En nou het ons woordjies opgeraak
en so probeer ons nou die plekkie op die blaaitjie vul, deur ietsie op te maak.
Inderwaarheid, ons gaan jou mis, dit is gewis....en iets wat rym met vis,
o, ja... die afval en die vis,
 mag jy nou veilig rus
 in jou “press wood”-kis!

Liefde, Die Kinders, Agterkleinkinders en die Wegsteekkinders


Julle ken mos die uitdrukking: DTD-mense? Dit is die wat net in die kerk kom met hul eie Doop, Troue en Dood! Die DTD-mense. Alle dominees dra kennis van hulle. Maar nou die dag, toe hoor ek by ‘n vriend ‘n beter beskrywing vir diegene wat net met Doop, Troue en Doop in die kerk kom – mens noem hulle: Gooiers!
Ja, Gooiers! Eers gooi jy hulle met die water (doop), dan gooi jy hulle met die konfetti (troue), dan gooi jy hulle met die grond (begrafnis).

“...laat die dooies hul eie dooies begrawe" Jesus Christus

No comments: