Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Thursday 3 March 2011

6km te ver

Dit reën sag en deurdringend, koud koud koud soos ‘n kenmerklike wintersaand hier in die Karoo. 21:00. Die teendeel is dat ons eintlik amper midde die somer staan. Ek stop voor die tipies plattelandse motorhuisdeur wat direk aan die straat grens, die kar ligte wat teen die afgedopte verf van die deur skyn en sien hoe die druppels duidelik grond toe sis. My oog vang ‘n vreemdheid hier naby my op, so ent  in die straat. Min straatlig en die reëntjie maak dit moeilik om regtig te kan sien. Met geïnteresseerdheid fokus my oë die donker in en drie figure ontvou in die toneel voor my.  ‘n Volwasse vrou en weerskante twee kleinerige kinders, die hoogte van vier en ses jaar oud. Die een in die middel van die twee is ‘n vrou wat erg  sukkellend loop.
Ek stoot my kar terug en ry nader om te sien wat hier aangaan. Ek sien dat die ouer kind aan die linkerkant van die vrou ‘n Shoprite sak dra-sleep en ek sien hoe die ma in die middel haar kinders se hande vashou. Die kleiner kind loop aan haar regtekant, ook sukkelend en moeg, wil nie meer loop nie...kan dalk nie meer loop nie besef ek. My hart sak diep en my trane lê vlak, want toe ek die kleintjie sien, besef ek wat hier voor my afspeel.
Die kleinste kindjie is aangetrek soos ‘n leeu in haar konsert kostuum . . .
Eindjaarliks hou die pre-primêre skooltjie in die dorp hulle kinder konsert. Almal in die skool neem deel. Hulle het hoofsaaklik drie verhale wat hulle opvoer en dan drie jaarliks sirkuleer, ek dink dit wissel tussen Pinocchio, Rooikappie en Hansie en Grietjie. My onsekerheid  is omrede die verhale redelik vervleg kan raak met mekaar asook die diversiteit van die kinders en hul persoonlikhede  wat elk geval op ‘n natuurlike kinder wyse die storielyn herskryf en tot lewe bring.  Tersyde en ter agtergrond: So twee jaar terug moes ek self op kort kennisgewing instaan vir die juffrou wat die klavierbegeleiding  moes doen.
Sonder geen bladmusiek of amptelike vasgestelde diep riglyne, het ek gou agtergekom dat die verhaal van Pinocchio baie meer insluit as wat ek ooit self as kind op die kassie gesien het. Die klavier het  onder voor die verhoog gestaan, ek op die klavierstoel.  ‘n Juffrou het  agter my gestaan en vooruit vertel wat volgende op die verhoog gaan gebeur – hier volgens moes ek musiek improviseer wat bypassend sou meegaan. Behalwe die ‘tema- en agtergrondmusiek’ het die juffrou dan ook die liedjies wat die groepe volgende moes sing, in my oor geneurie en hier ooreenkomstig moes ek optree. Die aand tydens die konsert het ek verseker die meeste gelag. Pinocchio was die betrokke jaar ‘n langerige maer swart dogtertjie met al haar voor tande uit – net die oog tandjies wat nog sit – of soos my ma sou verwys na die mense op die “Cape flatse”: die hek is oep, dis nerrie hoek pale wat nog staan. Die hoogtepunt van my lag was natuurlik toe Pinocchio op die verhoog verskyn - reg voor in die middel – en verstar nadat ek vir haar die inleiding van ‘Houtkabouter, jy’s ‘n stouter’ gespeel het nie. Niks gebeur nie. Niks.  En weereens speel ek die houtkaboueter-tema, maar Pinocchio swyg. Teen die vierde keer se inleiding kom ‘n juffrou van agter die verhoog te voorskyn en beweeg na Pinocchio – dit voel vir my pre-primêre personeel het ‘n sesde sintuig om dinge te weet en te sien van ‘n kind se siel wat ons gewones nie aldag kan sien nie – elk geval die juffrou kom by Pinocchio en vra saggies wat fout is. Dis toe dat Pinocchio redelik duidelik laat weet dat sy ‘n piepie het!
  Ja selfs houtkabouters moet toilet toegaan as die nood druk. Ek het deur die lag en lagtrane die tema van Pinocchio gespeel terwyl die hoofkarakter gou gaan ‘kamer verlaat’ het. Terug by die opvoeringaand het ek gesien dat elke liewe kind deel is van die skoolkonsert, want op ‘n stadium kom Pinocchio in ‘n bos en raak aan die slaap. Hy droom dan dat hy in die sirkus is asook in ‘n paar ander tonele met klomp interessante dinge wat ek nie eers kan onthou nie. Die doel hiervan is dat elke kind betrek word. In die sirkus is daar iets van alles, of dit nou inpas of nie,  panda bere, apies, leeus, hondtjies, feetjies, besems, hoola-hoop-meisies, visblikke en vele meer. Elke kind het ‘n bypassende kostuum aan, sing, dans, waai sonder skaamte vir hulle ma’s en pa’s in die gehoor en hulle  geniet die lewe. ‘n Fees!
. . . en nou is ek terug by die kleintjie in haar leeu kostuum wat saam met haar ma en sussie in die donkerte sukkelend voort beweeg.
Ek maak die kar stil staan langs hulle en vra deur die oop ruit: “Where are you going?” Die ma antwoord dat hulle oppad Lingilihle toe is. Ek kan mos sien dat Lingilihle nog ver lê vir haar en die twee kinders.  Terwyl ons Lingelihle toe ry, vra ek of die konsert lekker was. Ja, antwoord die kinders en die ma voeg by; “It is the best, it is the best, it is very good for da kids.”
Die ma vra verskoning dat ek hulle huis toe neem en verduidelik dat hulle nie ‘n ryding het. Haar voete is erg seer en die artritis kry haar onder. Ek sien beide die leeutjie en haar sussie is nogal moeg, maar opgewonde om te vertel van die konsert. In die stukkende Shoprite sak, sien ek dat die ouer sussie haar kleinsus se gewone klere gedra het huis toe.  Vir my voel dit of ons ‘n lang tyd ry om by hulle huisie uit te kom – klein ‘hop’-huis, pienk geverf toe die kar se ligte daarop val. Ek leer ondermeer tydens die rit  dat die ma self ‘n skoolhoof van ‘n swart laerskool naby aan hulle huis is en verseker kom ek agter dat sy hard werk om die pot aan die kook te hou. Dis net ses kilometer van waar ek hulle opgetel het tot by hulle huis. Toe ek terug ry het die trane geloop en sonder om te dink het ek hardop gesê: Here, ek’t nie gevra om wit te wees nie en daai vrou het nie gevra om swart te wees nie. Hier ry ek in ‘n “smart” Volvo en sy het nie ‘n kar nie. Here, hoeveel mense het gekies wie hulle is en in watter omstandighede hulle is?”

 Die betrokke aand  ek het soveel dinge besef. Dat dit wel net ses kilometer was wat die ma en haar kinders moes loop, maar dit was ses kilometer te ver vir vier en ses jarige kinders om by hulle huis te kom.
Dis ses kilometer te ver as jou ma sukkel om te loop en jou eie bene jou nie meer kan dra nie. Dis ses kilometer te ver as daar nie straatligte is nie en jy in die reën  en koue die getal van jou ouderdom  in kilometer moet stap om eers laatnag by jou huis te kom.
Hierdie ma het haar bes gedoen om haar kind te ondersteun. Haar kind was nie die hoofkarakter nie, maar ‘n kantlyn leeu en die ma se woorde: “It is the best, it is the best, it is very good for da kids.”  Hoe ver stap ons in die lewe om kwaliteit tot ander se lewens by te voeg? Sou jy die afstand van jou ouderdom deur donker strate, ‘n plakkerskamp, in koue wind en reën, laatnag gestap het om vir iemand anders die lewe te gun?  Nege en twintig kilometer sou te ver wees vir my. Maar hierdie ma en kinders het dit vir mekaar gedoen. Sou jy swaarkry terwille van ander.  Ek het nie antwoorde nie, maar ek dink na oor die lewe. Wat ek wel weet en verwonderd oor staan is dat die Here my en daardie Ma en twee kinders raak sien en vir ons sorg.

No comments: