Neem kennis:

Die inhoud van hierdie bladsy word op eie risiko gelees. Die skrywer word hiermee gevrywaar van alle reaksies of optredes van lesers.

Friday 4 March 2011

Geleende Tyd


Ek lê vanoggend in die bed, my Ma bel my en gesels sommer oor die komende naweek se kuier... “en moenie kosmaak nie, ek bring sommer ‘curry-bunnies’. Haai Ouboet vanoggend het ek so aan jou gedink toe ek ‘n Pietie(klein swart goggatjies)  in die huis kry. Ek’t vir Dad gevra om die Pietie uit te vat. Onthou jy nog hoe jy die Pietiesin die huis ingedra het. Die hele huis was altyd vol Pieties. En die naweek was daar in die Jeffreysbaaihuis ook een.” 
 Ek groet my ma en lê verder onder die komberse, draai my kop na die bedtafeltjie en ek sien toe die paraffienlamp wat daar staan. Ek hoor dadelik die voëls buite en dis asof ek terug is in my kinderskoene. Dis wonderlik hoedat sekere oomblikke, al is jy ook nou groot, jou so maklik kan terugvat na ‘n tyd ver verby. Vanoggend was dit so, Ma se stem, die beeld van my wat swart goggatjies vang en in die huis in bring (want hulle kry koud buite), Ma se curry-bunnies (wat sy in ‘n plastiekwinkelsak toegedraai het, want dit bly die varste so ((dis regtig waar!)), die paraffienlamp en paraffienreuk  en die voëls buite. Daar êrens op Bo-plaas in die ou plaashuis waar jy in die aande bang was vir spoke, in die dag vryer was as ‘n kransdassie  en in die aande vas geglo het dat jy glad nie ‘n bad nodig gehad het nie.  Waar Ma nadat die groot pot badwater op die houtstoof gekook was, jou soos ‘n vark geskrop het met ‘n naelborsel om net weer na ‘n menskeent te lyk, ja daar waar jy letterlik soms so pootuit gespeel was, dat jy met jou kop op die etenstafel aan die slaap geraak het. Ek sien nog die ou groot geelhouttafel met die donker groen sybokhaar  tafeldoek, die twee paraffienlampe, die ou porselein ‘square’borde, die beenhefmesse, die ‘strawberry’motief bekers en dis asof ek die lekkerste heuningbostee in die wêreld weer proe. Ek ruik en hoor die paraffien-yskas in die spens. Ek sien hoedat Lorraine die ketel weer vol water gooi en op die houtstoof in die es sit. Dis daar waar jy in die oggend nie kon wag om op te staan nie, as die eerste ou haan net gedink het om ‘ê’ te sê ; was ek en my boetie al in die kombuis besig om die fynhout in die stoof te pak en die vuur aan te steek. Dan net daar langs die stoof te sit, ‘n lang  fynhouttakkie te vat en in die vuur te speel. ‘n Kooltjie te maak en so in die lug rond te swaai.
En ek moet myself regtig forseer om weer myself terug in my bed, in die realiteit terug te kry en te besef – dit is verby. Vanoggend was ek sommer by die nostalgie ook bietjie hartseer oor baie dinge ander dinge, oor die mooi en die minder mooi dinge van die lewe, maar wat ek wel besef, al is dit ‘n moeilike konsep met tye – is dat hierdie mooi en ander dinge net ge-leende –tyd is. Prediker sê mos; daar is ‘n plek en ‘n tyd vir alles. En weereens vanoggend besef ek dat die woord geleentheid eintlik so ‘n gelaaide woord is. Geleentheid is Ge-leende-tyd -  is God-gegewe tyd. Net geleen aan my. Mens moet iets wat aan jou geleen is, oppas en mooi gebruik, want dit word weer iewers terug gegee. Daarom glo ek sê Jesus in Kolossense en Efesiers: maak die beste gebruik van elke geleentheid. Jesus gaan nie eendag ons net links en regs uittrap en vertel waar ons alles verkeerde gedoen het nie – nee, ek glo hy gaan sê; “Hier was vir jou ge-leende-tyd. Vertel my watse wonderlike dinge jy daarmee gedoen het.”
En ja, soos ek sê soms raak mens hartseer oor dinge wat toe nou nie verander het nie, dinge wat jy anders wou hê en dis toe dat vanoggend se teks in  Lukas 7:13 my weer vat:  “Moenie huil nie!” Wanneer Jesus hierdie woorde vir die weduwee sê wat haar kind verloor het,  is dit nie omdat huil ‘n verleentheid is nie, maar omdat Hy geweet het, Hy gaan haar hartseer wegneem. In hierdie opdrag van Jesus lê die wonderlikste belofte verskuil. Hy het die mag gehad om te sê “Moenie huil nie!” (‘n sagte bevelsvorm), want Hy kon die oorsaak van haar trane wegneem. Hy kon meer doen as om haar net menslik te vertroos. En onwillekeurig hoor ek ook die woorde van Openbaring 21:4 “ Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verby gegaan.” Geleende tyd gaan ook verby.  En ek hoor Here, dat trane net vir hierdie aarde bedoel is. Ek glo in ‘n nuwe hemel en ek glo in ‘n nuwe aarde!!! Dankie vir geleende tye.
Mag jy vandag lewe, dis die mooiste geleende tyd want vandag is net vandag daar!

No comments: